Foto’s: Dodetal styg ná ontploffing by treinstasie

Mense kyk na die beskadigde trein by die Ramses-treinstasie in Kaïro, Egipte, terwyl polisiebeamptes wag hou. (Foto: Nariman El-Mofty/AP)

Die dodetal van die ontploffing Woensdagoggend by die hooftreinstasie in Kaïro, Egipte, het tot 25 gestyg. Minstens 47 mense, van wie baie in ʼn kritieke toestand weens erge brandwonde, is beseer.

Spoorwegbeamptes sê ʼn trein het heeltemal te vinnig gery toe dit teen ʼn versperring gebots het. Die brandstoftenk het ontplof wat ʼn reusebrand veroorsaak het op die platform van die Ramses-stasie waar mense gestaan het.

Kringtelevisiebeeldmateriaal toon hoe die trein die versperring tref en hoe mense wat verbyloop byna onmiddellik deur rook en vlamme verswelg word. Wanneer die rook effens bedaar kan gesien word hoe verkoolde liggame op die platform lê terwyl ʼn man in vlamme gehul by trappe afhardloop.

Owerhede meen die dodetal kan nog verder styg.

Dit is tans nie bekend of die botsing moontlik deel van ʼn terreurdaad was nie. Een spoorwegbeampte het wel gesê die moontlikheid kan nie uitgesluit word nie.

Ashraf Momtaz, ʼn algemene spoorweginspekteur, het aan The Associated Press gesê daar is verskeie moontlikhede vir wat gebeur het. Een is dat iemand die bewegende trein aan die brand gesteek en toe uitgespring het.

Dit is nie duidelik of daar ʼn masjinis in die lokomotief was ten tyde van die botsing nie, het Momtaz gesê.

Mense kyk na die beskadigde trein by die Ramses-treinstasie in Kaïro, Egipte. (Foto: Nariman El-Mofty/AP)

“Die lokomotief neem tyd om spoed op te tel, so dit is moontlik dat iemand dit op volspoed gestel het net voordat hulle afgespring het,” het hy gesê. “Daar is wel rekords wat toon watter drywer was in watter trein.”

Hy het gesê op die oomblik dui die ongeluk op nalatigheid van die drywer en sy lynbestuurders.

Nabil Sadek, Egipte se algemene aanklaer, het gelas dat ʼn intensiewe ondersoek na die ongeluk gedoen word. ʼn Span ondersoekers is dadelik na die stasie gestuur.

Die Ramses-distrik is van die besigste en digbevolkste gebiede in die Egiptiese hoofstad. Die staatspoorwegagentskap het ná die ongeluk alle treinroetes tydelik opgeskort en opdrag gegee dat die stasie ontruim word.

Mustafa Madbouli, die eerste minister, het gesê die owerhede moet vasstel wie die ongeluk veroorsaak het en daardie persoon moet aanspreeklik gehou word. Hy het onderneem dat die skuldiges “swaar gestraf” sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.