Foto’s: Dodetal styg ná sikloon Idai tref

Mense dra hul persoonlike besittings deur die vloedwater in Beira, Mosambiek nadat sikloon Idai die gebied getref het [15 Maart 2019]. (Foto: Denis Onyodi/IFRC via AP)

Die dodetal nadat sikloon Idai verlede week eers Mosambiek getref en daarna na Zimbabwe en Malawi uitgebrei het, het reeds tot minstens 215 gestyg.

Pres. Filipe Nyusi van Mosambiek het egter gesê die uiteindelike dodetal kan meer as 1 000 wees. “Dit is ʼn ramp van enorme omvang,” het Nyusi gesê.

Sikloon Idai was een van die dodelikste storms wat dié suidoostelike Afrika-land in dekades getref het en nedersettings is volledig deur vloedwater meegesleur. Die sikloon het Beira, ʼn hawestad teen die Indiese Oseaan, Donderdag laat getref voordat die sterk winde en swaar reën na Zimbabwe en Malawi beweeg het. Dit het egter dae geneem voordat die omvang van die skade in Mosambiek duidelik geword het, aangesien die land se reeds swak kommunikasie- en vervoernetwerke deur die sikloon beskadig is.

Nyusi het Maandag in ʼn onderhoud op Radio Mozambique gesê die land se amptelike dodetal staan tans op 84. “Dit lyk egter of ons meer as 1 000 sterftes kan aanteken.”

VN-agentskappe en die Rooikruis het reeds ingespring om noodvoorraad kos en medisyne per helikopter na die geaffekteerde lande te neem.

Mount Chiluvo in die sentrale gedeelte van Mosambiek het erg onder oorstromings deurgeloop. Francisco Carlitos, ʼn plaaslike inwoner, het aan die Portugese nuusagentskap Lusa gesê hy het ʼn harde geluid, byna soos ʼn ontploffing, gehoor en toe ʼn rivier van modder gesien wat in die rigting van sy huis stroom.

“Ek was in die huis saam met my kinders, maar toe ons kyk toe sien ons hoe hierdie modderrivier op die huise afkom en toe vlug ons,” het hy gesê. Die gesin het hul huis en al hulle besittings verloor, maar kon hoër grond veilig bereik.

ʼn Lugfoto van die oorstromings in Beira, Mosambiek [18 Maart 2019]. (Foto: Caroline Haga/International Federation of Red Cross and Red Crescent Societies (IFRC) via AP)

Nyusi het ʼn besoek aan Swaziland kortgeknip om hom terug te haas na Mosambiek. Hy het per helikopter oor Beira en twee landelike provinsies gevlieg om die wydverspreide verwoesting gade te slaan. “Die water van die Pungue- en Buzirivier het oorstroom, en nedersettings heeltemal laat verdwyn en gemeenskappe afgesny. Liggame wat in die water dryf kan gesien word,” het Nyusi gesê.

Reddingsbeamptes het gewaarsku hoewel hulle ook meen dat die dodetal ná die sikloon nog aansienlik sal styg, is dit onmoontlik om te weet of dit die president se beraming sal bereik. Die Rooikruis het wel gesê tot 90% van Beira is verwoes of beskadig. Die sikloon het kragtoevoer afgesny, die lughawe tot stilstand gebring en paaie na die stad versper.

Volgens amptelike syfers is minstens 215 mense in die drie lande dood, insluitend 89 in Zimbabwe. Honderde mense word nog vermis.

Mosambiek is ʼn lang, smal land met ʼn 2 400 km lange kuslyn aan die Indiese Oseaan. Dit is baie geneig tot siklone en tropiese storms dié tyd van die jaar. In 2000 het Mosambiek onder erge oorstromings deurgeloop weens weke se swaar reënval en die situasie het in ʼn ramp ontaard toe ʼn sikloon die land getref het. Ongeveer 700 mense is destyds dood in wat bestempel is as die ergste oorstromings in 50 jaar.

Mosambiek se ekonomie word grootliks gesteun deur landbou, asook uitvoere insluitend garnale, katoen, suiker, kokosneute, kasjoeneute en hout.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marius ·

En daar is nie geld om reg te maak so vervalle gaan daai plek raak.

Christine ·

Ek het nou net gese die Moeder Natuur praat hard, maar hoor is min!!

Skerpioen ·

Ek wonder nou net as die borde verhang word na die Hoërskool Driehoek ramp se FB kommentaar …. soveel swartmense is dood in ‘n ramp. Maar ek is beter groot gemaak as sommige swartmense met hulle vieslike kommentaar. Ek het gevoel vir alle mens en dier. Ek kry hierdie nasie wat getref is deur hierdie natuurramp jammer.

Zef Leppard ·

Ai. Dat so n sikloon nou die president se rietdans vertoning in Swaziland kon kortknip. Nogal weird. As hierdie tragedie in die VSA of NZ plaasgevind het was dit al wat op CNN en Fox vir die volgende twee weke bespreek was. Ek is oor die deurmekaar wêreld so gatvol, sulke goed pla my nie eintlik meer nie.

Ellisras ·

Die amptelike dodetal gaan NOOIT die werklikheid weerspieël nie. Die stelsel is gebreek, die land is in chaos. Plekke onbereikbaar. Ons kan met veiligheid die amptelike syfer verdubbel.

Fonnie ·

Ja wees gewaarsku. Die tyd is min om jou saak in orde te kry met die Aller Hoogste en Sy Seun jesus. Moet nie dink dit kan ons nie tref nie. Simpatie met al ons bure.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.