Foto’s: Dodetal styg skerp ná vulkaanuitbarsting

ʼn Jong seun huil by die kis van Nery Otoniel Gomez Rivas (17) wie se liggaam onder die vulkaniese as uitgehaal is in San Juan Alotenango, Guatemala (4 Junie 2018). Foto: Luis Soto/AP

Die dodetal van die rampspoedige vulkaanuitbarsting Sondag in Guatemala het skerp gestyg.

Owerhede het bevestig die dodetal van die tragedie staan tans op 69. Fanuel Garcia, direkteur van Guatemala se Nasionale Instituut vir Forensiese Dienste, het laat Maandagaand dié dodetal bekendgemaak. Hy het gesê net 17 van die oorledenes kon tot dusver geïdentifiseer word.

Die brandende as en vuurwarm lahar wat die nedersettings naby die vulkaan verswelg het, het veroorsaak dat die meeste van die slagoffers onherkenbaar gelaat is. Hulle sal deur DNS-toetse geïdentifiseer moet word. Lahar is ʼn modderige mengsel van warm gasse, water en rots.

ʼn Gebrek aan elektrisiteit in die gebied wat die ergste geraak is, maak reddingspogings deur die nag onmoontlik. Reddingswerkers gebruik swaar masjinerie en grawe om die liggame van die slagoffers onder die puin uit te haal. Helikopters word ook gebruik om na oorlewendes te soek.

ʼn Inwoner in Escuintla, Guatemala hou sy hond vas wat hy betyds kon red ná die vulkaanuitbarsting (4 Junie 2018). Foto: Luis Soto/AP

Maroela Media het vroeër berig die Volcan de Fuego, of “Vulkaan van vuur”, het kort voor 12:00 Sondag tot uitbarsting gekom en ʼn stortreën van as en gesmelte klip die lug ingestuur. Nabygeleë nedersettings is byna dadelik deur as bedek en die lawa het teen die berg se hange begin afvloei en teen 16:00 oor huise en paaie geloop.

Die vulkaan is ongeveer 44 km van die stad Guatemala geleë. Eddy Sanchez, direkteur van die land se seismologiese en vulkanologie-instituut, het vroeër gesê die lawa wat uitgevloei het, het ʼn temperatuur van ongeveer 700 ˚C gehad.

Die land se rampagentskap het Maandag gesê 46 mense is in die ramp beseer. Byna 2 000 mense word tans in skuilings gehuisves en meer as 3 200 is uit die nedersettings rondom die vulkaan ontruim.

Intussen is die internasionale lughawe in Guatemala-stad heropen nadat dit aanvanklik gesluit is weens die as wat deur die vulkaanuitbarsting veroorsaak is. Die lughawe se mediakantoor het gesê die lughawe is Maandag heropen nadat die as van die aanloopbane verwyder is. Die fyn, sanderige vulkaniese as kan vliegtuie se enjins beskadig.

Israel se regering het reeds ʼn helpende hand uitgereik en kos, komberse en medisyne na Guatemala gestuur. Volgens Israel se departement van buitelandse sake sal hy voortgaan om hulp te verleen deur sy ambassade in Guatemala.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariska

Ek het iets wat my swaar op die hart lê van gister af. Daar was ‘n oom wat kommentaar gelewer het op ‘n vorige berig van hierdie vulkaanuitbarsting dat die mense dan weet hulle woon in ‘n gevaargebied. Dat dit hul eie skuld is dat hierdie onheil hulle getref het omdat hulle nie betyds getrek het nie. Oom ek hoop nie jy woon in Suid Afrika nie want jy weet jy sit in ‘n gevaargebied waar die onheil jou enige tyd kan tref. Jy weet wat gaan aan in die land van ons. Dis ‘n kookpot wat soos ‘n vulkaan… Lees meer »

Albaster

Was die mense nie gewaarsku om te vlug nie, of wou hulle die waarskuwings ignoreer?

Aggenee

Mariska. Ditto? Ek hou nie van mense wat altyd aaklige kommentaar gee en dan het hulle nog nooit in ‘n ander ou se skoene geloop nie.

Leandra

Dit is altyd maklik om kommentaar te lewer en te oordeel, skuld te pak, hardekool te wees, vingers te wys en aksies te bevraagteken totdat so iets, of iets soortgelyk jou self tref….. dan soek ons simpatie. Persoonlik gaan my hart uit na die mensie en loop die trane oor my wange terwyl ek hier tik…. kyk net na die absolute pyn, verwarring en verlorendheid op die mense se gesigte. Dit is absoluut sielsdodend…. en laat mens woordeloos met ‘n beklemming in die gemoed. Waar is ons empatie, waar is ons genade, waar is ons liefde? Dit maak my siek… Lees meer »

Blondie

Ai my hart sink weg in my skoene in. Here help asb die mense.