Foto’s: Dodetal styg skerp ná vulkaanuitbarsting

ʼn Jong seun huil by die kis van Nery Otoniel Gomez Rivas (17) wie se liggaam onder die vulkaniese as uitgehaal is in San Juan Alotenango, Guatemala (4 Junie 2018). Foto: Luis Soto/AP

Die dodetal van die rampspoedige vulkaanuitbarsting Sondag in Guatemala het skerp gestyg.

Owerhede het bevestig die dodetal van die tragedie staan tans op 69. Fanuel Garcia, direkteur van Guatemala se Nasionale Instituut vir Forensiese Dienste, het laat Maandagaand dié dodetal bekendgemaak. Hy het gesê net 17 van die oorledenes kon tot dusver geïdentifiseer word.

Die brandende as en vuurwarm lahar wat die nedersettings naby die vulkaan verswelg het, het veroorsaak dat die meeste van die slagoffers onherkenbaar gelaat is. Hulle sal deur DNS-toetse geïdentifiseer moet word. Lahar is ʼn modderige mengsel van warm gasse, water en rots.

ʼn Gebrek aan elektrisiteit in die gebied wat die ergste geraak is, maak reddingspogings deur die nag onmoontlik. Reddingswerkers gebruik swaar masjinerie en grawe om die liggame van die slagoffers onder die puin uit te haal. Helikopters word ook gebruik om na oorlewendes te soek.

ʼn Inwoner in Escuintla, Guatemala hou sy hond vas wat hy betyds kon red ná die vulkaanuitbarsting (4 Junie 2018). Foto: Luis Soto/AP

Maroela Media het vroeër berig die Volcan de Fuego, of “Vulkaan van vuur”, het kort voor 12:00 Sondag tot uitbarsting gekom en ʼn stortreën van as en gesmelte klip die lug ingestuur. Nabygeleë nedersettings is byna dadelik deur as bedek en die lawa het teen die berg se hange begin afvloei en teen 16:00 oor huise en paaie geloop.

Die vulkaan is ongeveer 44 km van die stad Guatemala geleë. Eddy Sanchez, direkteur van die land se seismologiese en vulkanologie-instituut, het vroeër gesê die lawa wat uitgevloei het, het ʼn temperatuur van ongeveer 700 ˚C gehad.

Die land se rampagentskap het Maandag gesê 46 mense is in die ramp beseer. Byna 2 000 mense word tans in skuilings gehuisves en meer as 3 200 is uit die nedersettings rondom die vulkaan ontruim.

Intussen is die internasionale lughawe in Guatemala-stad heropen nadat dit aanvanklik gesluit is weens die as wat deur die vulkaanuitbarsting veroorsaak is. Die lughawe se mediakantoor het gesê die lughawe is Maandag heropen nadat die as van die aanloopbane verwyder is. Die fyn, sanderige vulkaniese as kan vliegtuie se enjins beskadig.

Israel se regering het reeds ʼn helpende hand uitgereik en kos, komberse en medisyne na Guatemala gestuur. Volgens Israel se departement van buitelandse sake sal hy voortgaan om hulp te verleen deur sy ambassade in Guatemala.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Mariska ·

Ek het iets wat my swaar op die hart lê van gister af. Daar was ‘n oom wat kommentaar gelewer het op ‘n vorige berig van hierdie vulkaanuitbarsting dat die mense dan weet hulle woon in ‘n gevaargebied. Dat dit hul eie skuld is dat hierdie onheil hulle getref het omdat hulle nie betyds getrek het nie.
Oom ek hoop nie jy woon in Suid Afrika nie want jy weet jy sit in ‘n gevaargebied waar die onheil jou enige tyd kan tref. Jy weet wat gaan aan in die land van ons. Dis ‘n kookpot wat soos ‘n vulkaan enige tyd tot uitbarsting kan kom. Ek hoop jy het betyds getrek, want as iets met jou gaan gebeur gaan omgevoelige mense sê maar jy het mos geweet daar is ‘n lewensbedreigende gevaar. Ek hoop julle plaas my kommentaar sodat mense eers voor hul eie deure sal vee voor hulle kommentaar lewer.
Die mens wik maar God beskik.

Kannaland ·

Nee Mariska, jou redenasie is nie geldig nie. Baie Suiud Afrikaners het probeer emmigreer maar is nie ryk of hoogs geleerd genoeg nie, so dis onmoontlik. Maar dit is wel moontlik vir mense om intern van een deel van n streek na n ander in selfde land reel te trek, dikwels in die geval van rampe met die regering se hulp.

Dink mooi ·

Dink mooi Mariska, dis baie makliker om te trek na n ander plek in jou eie land as wat dit is om te emmigreer, dit kan nie eers vergelyk word nie.

Mariska ·

Vergewis julle eers van die feite van daardie mense se omstandighede. Hou vir julle eie ontwil op om beskuldigings rond te slinger want wat jy saai sal jy maai.

Katryn ·

Mariska, ek stem SO saam met jou. Ek bly in Centurion, en hier is gereeld groot sinkgate wat inval agv dolomiet, wonder wat gaan die oom sê as ek die dag wakker word en my huis is binne in die sinkgat, moet ek nou maar oppak en iewers anders gaan woon en werk?
Die arme mense in Guatemala, wat het hulle nie alles verloor nie? Familie, vriende, persoonlike besittings.
Hoe ongelooflik hartseer. Ons gebede is by hulle.

Pieter ·

Mariska,
Ek begryp jou analogie en vind dit ewe hartseer dat mense sulke uitlatings kan maak, sonder empatie of selfs simpatie met diegene wat ly. As die oom al gereis het, sou hy ook geweet het hoeveel “gevaarlike” plekke op aarde bewoon word.
Sou die hele Los Angeles byvoorbeeld moet verhuis omdat daar aardbewings voorkom? Of Venisië ontruim word omdat die hele stad oorstroom kan word? Of die eilandgroepe in die Indiese Oseaan wat gereeld deur siklone geteister word?
Ag nee, kom ons hou op om ongevoelig te wees en toon dankbaarheid wanneer ons dit gespaar bly.

Albaster ·

Was die mense nie gewaarsku om te vlug nie, of wou hulle die waarskuwings ignoreer?

Asjas ·

Albaster, ek dink nie ons besef hoe vinnig so ‘n natuurramp kan plaasvind nie en hoe vinnig die as en lawa versprei nie. Ek glo ook nie mense sal waarskuwings ignoreer as hulle kan sien wat besig is om te gebeur nie. Mense kon oorval gewees het tydens hulle pogings om te vlug. Van hulle wou miskien probeer het om ‘n paar persoonlike besittings saam te neem. Ons sal nooit weet hoe dit in hierdie situasie moet wees nie.

L ·

Dit het bitter vinnig gebeur. Fuego is die aktiefste van die 37 vulkane in die land en stuur byna daagliks ‘n klein aswolkie uit. Maar ‘n uitbarsting van hierdie omvang het dekades laas gebeur. Mense is in hul mielielande oorval. Vyf kinders is dood gevind in ‘n kamer waar hulle onder ‘n kombers probeer skuil het. Wegkomkans was daar nie. Ook nie tyd vir persoonlik besittings gryp nie, hoewel een man teruggegaan het vir sy hond. (Albei is veilig.) En voor die kommentaar kom oor hoekom mense dan hier woon: hulle het nie iewers anders om te woon nie.

Aggenee ·

Mariska. Ditto? Ek hou nie van mense wat altyd aaklige kommentaar gee en dan het hulle nog nooit in ‘n ander ou se skoene geloop nie.

Leandra ·

Dit is altyd maklik om kommentaar te lewer en te oordeel, skuld te pak, hardekool te wees, vingers te wys en aksies te bevraagteken totdat so iets, of iets soortgelyk jou self tref….. dan soek ons simpatie.

Persoonlik gaan my hart uit na die mensie en loop die trane oor my wange terwyl ek hier tik…. kyk net na die absolute pyn, verwarring en verlorendheid op die mense se gesigte. Dit is absoluut sielsdodend…. en laat mens woordeloos met ‘n beklemming in die gemoed.

Waar is ons empatie, waar is ons genade, waar is ons liefde? Dit maak my siek tot in my diepste binneste dat niemand in hierdie wereld regtig omgee sonder dat hul self daarby baat nie, hetsy finansieel, emotioneel of egotisties.

Kan ons nie net maar verdraagsaam wees nie, kan ons nie maar net barmhartig wees en dit toon nie?

Blondie ·

Ai my hart sink weg in my skoene in. Here help asb die mense.

L ·

Ek woon so 50 km van Fuego af in hierdie land wat my met ope arms verwelkom het sonder dat ek eens beplan het om hier te bly. Ons almal spring in en maak bymekaar wat nodig is. Praktiese hulp beteken nou veel meer as gebede en goeie gedagtes, so soek vir organisasies soos Cruz Roja Guatemalteca of Mayan Families en skenk. R10 kan bv. ‘n pond hondekos of 2 paar sokkies of 5 pynpille of 2 liter skoon drinkwater koop. En onthou natuurlik ook al die mense in Suid-Afrika wat sonder die drama van ‘n vulkaanuitbarsting hulp nodig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.