Nog ʼn ontploffing en geweerskote kon Woensdagoggend gehoor word by die kantoor-en-hotelkompleks in die Keniaanse hoofstad, Nairobi, waar terroriste Dinsdag toegeslaan het en minstens 15 mense gedood het.
Mense het Dinsdag vreesbevange van die kompleks gevlug terwyl ontploffings en geweervuur deur die buurt weerklink het. Wetstoepassingsagentskappe sê ʼn “aktiewe veiligheidsoperasie” is intussen steeds aan die gang in en rondom die kompleks wat deur Islamitiese ekstremiste aangeval is te midde
van sporadiese geweervuur wat steeds gehoor kan word.
Uhuru Kenyatta, Kenia se president, sal na verwagting vanoggend die land toespreek oor die aanval. Die militante groep Al-Sjabaab het vroeër verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Die aanval het begin met talle motorbomontploffings buite ʼn bank en ʼn selfmoordbomaanval by die ingangsportaal van die hotel waarna minstens vier gewapende mans toegeslaan het.
Mense is intussen reg deur die nag uit die kantoor-en-hotelkompleks na veiligheid gebring. Die kompleks in Nairobi sluit in ʼn groot hotel, genaamd DusitD2, asook banke en kantore. Talle voertuie was ná die aanval aan die brand terwyl mense uit die kompleks gedra is.
Die VSA het bevestig dat een van sy burgers in die aanval dood is, maar het nie die oorledene se naam bekend gemaak nie.
Al-Sjabaab het met vergelding teen Kenia gedreig nadat die land in 2011 troepe na Somalië gestuur het. Dinsdag se aanval volg drie jaar ná Al-Sjabaab se aanval op die El Adde-weermagbasis toe 140 Keniaanse soldate om die lewe gebring is.
In September 2013 is minstens 69 mense dood in die aanval op die Westgate-winkelsentrum in Nairobi. ʼn Suid-Afrikaner is ook in dié aanval dood.
Die dodelikste aanval waarvoor Al-Sjabaab nog verantwoordelikheid aanvaar het, was die aanval op Kenia se Garissa University College in 2015 waartydens 147 mense dood is.
Die Moslemwêreld moet optree teen hierdie moordbendes wat Islam op onskuldiges loslaat. Indien dié geloof enigsens as godsdiens erken wil word, sal hulle drastiese stappe moet neem om mede moslems te oortuig dat moord en verwoesting nie Allah se wens is nie. Indien hulle nalaat om dit te doen, moet Islam onder een kam geskeer word en dan wêreldwyd as ‘n terroriste organisasie verklaar en beveg word. Daar skyn geen ander oplossing vir hierdie euwel te wees nie.