Foto’s: Duisende moet nog gered word ná damwal breek

Mense word met ʼn boot uit die rampgebied ontruim (24 Julie 2018). Foto: Attapeu TV via AP

Duisende mense in Laos wag steeds om gered te word nadat die wal van ʼn hidroëlektriese dam in dié Suidoos-Asiese land se Attapeu-provinsie Maandagaand gebreek en die water huise in verskeie nedersettings meegesleur het.

Volgens mediaberigte is minstens 19 mense in die ramp dood, maar kan die dodetal nog verder styg aangesien honderde steeds vermis word. The Guardian berig 2 851 mense is reeds gered.

SK Engineering & Construction, een van twee Suid-Koreaanse maatskappye wat betrokke was by die bou van die Xepian-Xe Namnoy-damprojek, het in ʼn verklaring gesê die wal van die boonste van een van die vyf aanvullende grondwaldam wat deel is van die projek het ineengestort ná swaar reën Sondagaand. Die watermassa het deur verskeie nedersettings gespoel en meer as 6 600 mense is dakloos gelaat.

Inwoners wag om gered te word waar hulle op ʼn dak vasgekeer is (24 Julie 2018). Foto: Lao National Television via AP

Teen Dinsdagoggend was sewe van die 12 nedersettings wat stroomaf geleë is oorspoel. Die amptelike nuusagentskap in Laos, KPL, het bevestig honderde mense word vermis, maar het nie meer besonderhede hieroor bekendgemaak nie.

Foto’s het intussen aan die lig gekom waarin gesien kan word hoe mense en diere op huise se dakke vasgevang is, met die watervlak wat tot teen die huise se dakke kom.

Kim Eui-keum, ʼn woordvoerder van pres. Moon Jae-in, staatshoof van Suid-Korea, het Woensdag gesê Moon het opdrag gegee dat die land hulp aanbied in die uitgebreide reddingspogings wat tans aan die gang is. Die afgeleë aard van die gebied aan die suidoostelike punt van Laos maak dit moeilik vir reddingspanne om voorraad by die duisende mense uit te kry wat daar gestrand is.

SK Engineering & Construction het gesê hy het ʼn krisisbeheerspan in die gebied ontplooi, tesame met helikopters, bote en reddingswerkers.

Die regering het reeds die gebied as ʼn rampgebied verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

‘n Baie groot ramp ! Mag God Julle beskerm en bewaar deur die reddingspoging ?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.