Duisende mense in Laos wag steeds om gered te word nadat die wal van ʼn hidroëlektriese dam in dié Suidoos-Asiese land se Attapeu-provinsie Maandagaand gebreek en die water huise in verskeie nedersettings meegesleur het.
Volgens mediaberigte is minstens 19 mense in die ramp dood, maar kan die dodetal nog verder styg aangesien honderde steeds vermis word. The Guardian berig 2 851 mense is reeds gered.
SK Engineering & Construction, een van twee Suid-Koreaanse maatskappye wat betrokke was by die bou van die Xepian-Xe Namnoy-damprojek, het in ʼn verklaring gesê die wal van die boonste van een van die vyf aanvullende grondwaldam wat deel is van die projek het ineengestort ná swaar reën Sondagaand. Die watermassa het deur verskeie nedersettings gespoel en meer as 6 600 mense is dakloos gelaat.
Teen Dinsdagoggend was sewe van die 12 nedersettings wat stroomaf geleë is oorspoel. Die amptelike nuusagentskap in Laos, KPL, het bevestig honderde mense word vermis, maar het nie meer besonderhede hieroor bekendgemaak nie.
Foto’s het intussen aan die lig gekom waarin gesien kan word hoe mense en diere op huise se dakke vasgevang is, met die watervlak wat tot teen die huise se dakke kom.
Kim Eui-keum, ʼn woordvoerder van pres. Moon Jae-in, staatshoof van Suid-Korea, het Woensdag gesê Moon het opdrag gegee dat die land hulp aanbied in die uitgebreide reddingspogings wat tans aan die gang is. Die afgeleë aard van die gebied aan die suidoostelike punt van Laos maak dit moeilik vir reddingspanne om voorraad by die duisende mense uit te kry wat daar gestrand is.
SK Engineering & Construction het gesê hy het ʼn krisisbeheerspan in die gebied ontplooi, tesame met helikopters, bote en reddingswerkers.
Die regering het reeds die gebied as ʼn rampgebied verklaar.
‘n Baie groot ramp ! Mag God Julle beskerm en bewaar deur die reddingspoging ?????