Foto’s: Duisende vlug weens brande in Griekeland

Minstens 56 655 ha grond het teen Maandag reeds afgebrand (Foto: Pefki, AFP)

Brandbestryders probeer nou reeds byna twee weke lank reuseveldbrande in verskillende dele van Griekeland onder beheer kry. Meer as 580 veldbrande het sedert einde Julie ontstaan en duisende inwoners moes intussen hul huise ontruim het. Talle winkels en geboue is ook deur die brande vernietig.

Minstens 56 655 ha grond het teen Maandag reeds afgebrand.

Die ergste brande woed tans op die Griekse eiland, Evia, in die noordooste van Athene. Meer as 650 brandbestryders is na dié eiland ontplooi en spook om die brand in bedwang te bring.

Duisende inwoners van verskillende nedersettings op die eiland moes met bote na veiligheid geneem word. Van die inwoners het op die eiland agtergebly en vrywillig ingestem om die brand te help beveg en hul wonings te beskerm.

Meer as 580 veldbrande het sedert einde Julie ontstaan en duisende inwoners moes intussen hul huise ontruim het (Foto: Pefki, AFP)

Twee mense is verlede week naby Athene dood, onder wie ʼn brandbestryder wat deur ʼn kragmas getref is en ʼn nyweraar wat ʼn hartaanval gekry het toe die brand sy fabriek genader het. ʼn Derde man, wie se stootskraper die afgelope naweek in Sentraal-Griekeland by ʼn krans afgeval het, is Maandag dood.

Verskeie ander mense is in die hospitaal opgeneem en het onder meer rookinaseming, brandwonde en ander beserings opgedoen.

Volgens die Griekse owerhede het die brand ontstaan tydens ʼn erge hittegolf waaronder die land tans gebuk gaan.

“Die hittegolf en langdurige droogte wat tans in die land heers, maak die blus van die brand byna ʼn onbegonne taak,” het Kyriakos Mitsotakis, die eerste minister van Griekeland, gesê.

Die ergste brande woed tans op die Griekse eiland, Evia, in die noordooste van Athene (Foto: Pefki, AFP)

Verskeie burgemeesters van die land het gekla dat daar ʼn ernstige gebrek aan lugondersteuning in die bestryding van die brande is, ondanks die feit dat die regering vroeër vanjaar genoeg hulpbronne vir só ʼn krisis opsy gesit het.

Brandbestrydingsvliegtuie wat wel gestuur is om die brand te help blus, ondervind ernstige turbulensie en die vlieëniers se sigbaarheid word belemmer weens die dik rook.

Griekeland het ook brandbestrydingshulp van ander lande gevra.

Die burgerlike beskermingsowerheid het Maandag gesê state in die Europese Unie en ander lande het tot dusver 21 vliegtuie, 250 voertuie en die diens van meer as 1 200 brandbestryders geskenk, waarvan sommige tussen Dinsdag en Vrydag verwag kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.