[Foto’s] Duitsland-treinongeluk eis 9

Polisiebeamptes langs die twee treine wat op 9 Februarie 2016 in Duitsland gebots het Foto: Uwe Lein/dpa via AP

Polisiebeamptes langs die twee treine wat op 9 Februarie 2016 in Duitsland gebots het Foto: Uwe Lein/dpa via AP

Minstens nege persone is dood en ongeveer 150 beseer ná ʼn treinongeluk Dinsdagoggend in Beiere, Duitsland.

Twee passasierstreine het omstreeks 07:00 op die enkellyn naby Bad Aibling mekaar getref en verskeie trokke het omgeslaan, het Stefan Sonntag, woordvoerder van die polisie, aan die Associated Press gesê.

Ongeveer 50 persone is ernstig beseer. Dit het ure geneem om van die beseerdes in die wrak te bereik. Die laaste persoon is om 11:00 uit die wrak gehaal.

Die twee treindrywers en albei kondukteurs is oorlede, het Bayerischer Rundfunk-radio berig.

Die spoorlyn word gewoonlik deur pendelaars gebruik wat in München werk. Skoolkinders maak gewoonlik ook van dié treine gebruik, maar hulle is tans met vakansie, het die dpa-nuusagentskap berig.

Die ongeluk het in ʼn afgeleë gebied ongeveer 60 km suidoos van München plaasgevind, in ʼn gebied met ʼn woud aan die een kant en ʼn rivier aan die ander kant. Reddingspanne het van helikopters en klein bote gebruik gemaak om beseerde passasiers na die oorkant van die Mangfall-rivier te karwei waar ambulanse gewag het.

Volgens owerhede is die beseerdes na hospitale dwarsoor Beiere geneem.

Honderde paramedici en nooddiensbeamptes van Duitsland en Oostenryk was op die toneel om die wrak te deursoek en te help om die beseerdes te red.

“Dit is die grootste ongeluk wat ons in jare in dié streek gehad het, en ons het talle dokters, ambulanse en helikopters op die toneel,” het Sonntag bygevoeg.

Die twee treine het albei gedeeltelik ontspoor en was teen mekaar vasgedruk, het die treinoperateur, Bayerische Oberlandbahn, in ʼn verklaring op sy webwerf gesê.

Die skoonmaakoperasie sal glo dae lank duur, en die spoorlyn bly gesluit.

Die polisie het gesê dit is nog nie duidelik wat die ongeluk veroorsaak het nie. “Ons is nog in die middel van die reddingsoperasies, dis nog te vroeg om nou oor moontlike redes vir die ongeluk te spekuleer,” het Stefan Brandl, federale polisiewoordvoerder, gesê.

Bayerische Oberlandbahn het gesê hy het ʼn noodlyn vir familie en vriende opgestel om inligting oor passasiers te bekom. “Dit is ʼn groot skok. Ons doen alles om die passasiers, hul familielede en ons personeel te help,” het Bernd Rosenbusch, hoof van die maatskappy, aan dpa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

DPJ ·

Jammer om te hoor van die ongeluk. Mag God met almal wees in die tyd van nood.

johny ·

Baie jammer oor die geliefdes wat oorlede is en die wat beseer is.Veiligheids meganismes op treine moet opgeskerp word.Die wil ontbreek net.Selfs vandag se vliegtuie hoef niemand iets oor te kom nie..Geld en tegnologie moet nie ontbreek nie.As militere tenks kan neerdaal na die aarde met valskerms .Kan vliegtuie met mense in ook neerdaal met valskerms as vliegtuig problem ondervind.Daar kan oplossings gevind word

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.