[Foto’s en video] Orkaan Irma: Florida begin ontruim

Verwoesting wat deur orkaan Irma gesaai is (Foto: Gerben Van Es/Dutch Defense Ministry via AP)

Die dodetal het teen Vrydagoggend reeds op 11 gestaan nadat orkaan Irma in die vroeë oggendure begin verwoesting saai het op die Turks en Caicos, eilande in die Karibiese See.

Orkaan Irma, een van die grootste storms in die Atlantiese Oseaan in meer as ʼn eeu, het reeds groot dele van die Karibiese eilande en Puerto Rico in puin gelaat. Die orkaan, met sy stormsterk winde van byna 300 km/h, het onder meer eilande soos Barbuda met sowat 2 000 inwoners én St. Barts met sowat 10 000 mense reeds “heeltemal verwoes”.

Die Amerikaanse nasionale weerdiens het Donderdag berig Haïti mag dalk volgende deur die orkaan getref word, waarna die Bahamas en Kuba sal volg.

Die Turks en Caicos-eilande was teen Vrydagoggend egter die ergste geraak met branders van hoër as 6 m wat beboude gebiede in laagliggende areas platgevee het. Hoewel die omvang van die skade nog nie bekend is nie, berig The Guardian dat meeste inwoners op dié eilande reeds van die buitewêreld afgesny is en boonop ook min tot geen watertoevoer het.

Die Amerikaanse orkaansentrum het Donderdagaand ʼn waarskuwing aan inwoners van die Amerikaanse deelstaat Florida in die suidooste van die VSA uitgereik om dringend met ontruimingsplanne te begin. Volgens kenners sal orkaan Irma dié vasteland oor die naweek tref en moontlik die ergste verwoesting nóg deur ʼn natuurlike verskynsel saai. Die Amerikaanse weerdiens het eers gesê die orkaan sal Florida waarskynlik Sondag tref, maar die tyd van impak is intussen na Saterdag vervroeg.

Satellietbeelde van die orkaan (Foto: Twitter via @SergeyISS)

Die orkaan was glo Vrydagoggend vroeg nog net meer as 900 km weg van Miami, ʼn groot hawestad aan die Atlantiese kus. Die windspoed in die oog van die orkaan het glo intussen verminder na sowat 270 km/h, maar winde van dié spoed dra steeds katastrofiese gevolge as dit die vasteland tref.

Volgens mediaberigte is talle vlugte van en na lughawes aan die Atlantiese kus, onder meer die Miami- internasionale lughawe, die Ft. Lauderdale-Hollywood-lughawe en die West Palm Beach-lughawe, reeds gekanselleer. Daar is glo ook erge verkeersdruk op snelweë vanuit die suide van Florida namate mense uit dié deelstaat probeer wegkom.

Orkaan Irma is die eerste kategorie-vyf storm wat die VSA tref sedert 1993. Orkaan Harvey, wat volgens kenners minder verwoesting gesaai het as wat orkaan Irma gaan doen, het sowat $70 miljard se skade in Houston in Texas gesaai.

Lees meer oor orkaan Irma op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris Beets ·

Ek wonder wat gaan Suid Afrika doen as so orkaan syland tref, daar is geen waarskuwing in plek vir dit nie, daar is ook nie reelings van toepassings nie waarheen, Ek wonder maar net.( Red )

**anoniem** ·

Dit is verskriklik! Ons gebede is met die mense wat deur Orkaan Irma geraak word, mag ons Hemelse Vader julle beskerm!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.