Foto’s: Gevaarlike stofwolk omhul Beijing

‘n Vrou ry tydens die sandstorm in Beijing fiets. (Foto: Noel Celis / AFP)

Die ergste sandstorm in ’n dekade het Maandag ’n dik oranje-geel stofwolk oor China se hoofstad, Beijing, getrek. Inwoners vrees nou vir hul gesondheid.

Relatief hoë besoedelingsvlakke het weens die sandstorm die hoogte ingeskiet en inwoners gebruik enigiets van brille, maskers en haarnette om hulle teen die verstikkende lug te beskerm.

Meer as 350 vlugte vanuit Beijing is reeds gekanselleer en tientalle ander vertraag.

Skole is intussen genoodsaak om alle sport en buite-aktiwiteite te staak terwyl sommige snelweë gedeeltelik gesluit is weens swak sigbaarheid. Diegene met asemhalingsprobleme word aangeraai om binnenshuis te bly.

Motoriste sit in die verkeer in Beijing weens ‘n erge sandstorm. (Foto: GREG BAKER / AFP)

Die swak luggehalte word toegeskryf aan ’n sandstorm uit die noorde van Mongolië waar ses mense reeds dood is en tientalle ander vermis word. Die wind het intussen suidwaarts gedraai wat sigbaarheid in Beijing tot minder as 500 meter verminder het.

Die owerhede beskryf dit as die ergste sandstorm in ’n dekade om die Chinese hoofstad te tref.

‘n Man stap oor ‘n brug in ‘n stofbedekte Beijing. (Foto: GREG BAKER / AFP)

Inwoners van Beijing is bekommerd oor die gesondheidsrisiko’s.

“Ek voel elke asemteug sal my longprobleme gee,” vertel Zhang Yunya aan AFP.

“Hierdie sandstorm is baie erg,” het Pan Xiaochuan, ’n kenner van omgewingsgesondheid in Beijing, gesê. “Ek onthou die sandstorms tien jaar gelede het binne minder as ’n uur weggewaai, maar ek is bevrees dat hierdie een nie teen die einde van die dag oorgewaai sal wees nie.”

Inwoners ry tydens die sandstorm in Beijing fiets. (Foto: Noel Celis / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Snowball ·

Is nogal so Sarel, wanneer hulle daai kant ‘n windjie laat, snak die res van die wêreld noodgedwonge na hulle asems..

Misky ·

Dis baie erg en laat mens weer terug dink aan Australie se brande laasjaar en lug ook so verkleur/donker gemaak

Michal ·

Miskien kan hulle die stof uit die stad laat ontsnap, gebruik dit as nog n weapon of mass destruction, om die wereld weer n hou te gee, hulle moet net onthou om die amerikaanse demokrate te vra vir toestemming. Die wiel draai stadig, maar hy draai

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.