Foto’s: Herstel van Notre Dame vorder

Roet word van die Notre Dame-katedraal in Parys se mure verwyder. (Foto: Colin BERTIER / AFP)

Die meeste roet waaronder die Notre Dame-katedraal in Parys drie jaar gelede ná ’n verwoestende brand begrawe was, is nou verwyder.

Die reuse-skoonmaaktaak van die mure, vloer en gewelf is byna voltooi en die katedraal is eindelik tot sy oorspronklike kleur herstel.

Die eerste fase van die projek het die skoonmaak van puin en verbrande balke behels, asook die versterking van die katedraal se steunpilare en die skoonmaak van die massas stof wat die 450 ton lood in die struktuur veroorsaak het.

’n Tydelike metaalsteierwerk moes gebou word vir dié reusetaak wat teen ’n koste van €151 miljoen voltooi is. Die bouwerk verloop in dié stadium grootliks volgens skedule ondanks ’n vertraging van drie maande in 2020 weens die Covid-19-pandemie.

Steierwerk vandeesweek by die Notre Dame-katedraal in Parys. (Foto: Colin BERTIER / AFP)

Die brand het in April 2019 ongeveer agt uur lank gewoed en groot dele van die struktuur verwoes. Die kloktoring het tydens die brand meegegee en in die proses die grootste deel van die dak vernietig.

Byna €844 miljoen in skenkings vanaf 340 000 skenkers uit 150 lande is sedertdien ontvang om die 12de-eeuse Gotiese baken tot sy vorige glorie te herstel.

Baie van die herstelwerk word aan spesialiswerkswinkels in Frankryk toevertrou. Dit sluit in die uitmekaarhaal en skoonmaak van die katedraal se 18de-eeuse orrel, die grootste in Frankryk, wat ná die brand met loodstof bedek is.

Steierwerk vandeesweek by die Notre Dame-katedraal in Parys. (Foto: Colin BERTIER / AFP)

Die Notre Dame se loodglasvensters, asook verskeie standbeelde en skilderye uit die 17de en 18de eeu, is ook vir restourasie gestuur.

Daar wag egter nog grootskaalse werk op die bouspan.

Notre Dame-katedraal in Parys ná die brand. (Foto: Thomas COEX / AFP)

Die Middeleeuse houtraamwerk van die sentrale binneruim van die kerk en die 19de-eeuse kerktoring sal gedurende die tweede fase van die projek herinstalleer moet word. Die span hoop om dié fase in die eerste helfte van 2023 te voltooi.

Altesaam 1 000 bome is reeds in nasionale en private woude oor die hele Frankryk afgekap ter voorbereiding hiervoor.

Intussen is klippe vandeesweek uit steengroewe gehaal om die beskadigde gewelfbalke te begin herbou.

Toetse is op twee van die katedraal se 24 kapelle uitgevoer om die tegnieke te oefen wat nodig is om hul oorspronklike kleure te herskep.

Die katedraal sal na verwagting eers in April 2024 weer tot sy volle glorie herstel wees. Dit is vyf jaar nadat die brand aanvanklik uitgebreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

In SA het historiese geboue nie nodig om af te brand om te verval nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.