Foto’s: Hewige sneeustorm tref New York

‘n Man neem ‘n foto van ‘n sneeubedekte Times Square in New York. (Foto: Scott Heins/Getty Images/AFP)

’n Hewige sneeustorm het die Amerikaanse ooskus getref en dreig om New York onder byna twee voet (sowat 60 cm) se sneeu te begrawe.

Dié stad het Maandag ’n noodtoestand afgekondig waarna talle vlugte opgeskort, skole gesluit en die toedien van entstowwe teen Covid-19 gestaak is soos New Yorkers hul staal vir die storm.

Die Amerikaanse Nasionale Weerdiens (NWS) het stormwaarskuwings vir gebiede vanaf Virginia tot Maine – die tuiste van ongeveer tien miljoene mense – uitgereik weens swaar sneeu en stormsterkwinde van tot 80 kilometer per uur al langs die ooskus.

Meer as 1 600 vlugte is gekanselleer, waarvan die meeste uit New York, Boston, Philadelphia en Washington sou vertrek. Lugrederye het alle vlugte van en na die LaGuardia-lughawe en die JFK-lughawe in New York gekanselleer, terwyl 71% van die vlugte op die Newark Liberty-lughawe in New Jersey opgeskort is.

‘n Sneeukombers bedek motors buite die Broadway-teaters in New York. (Foto: TIMOTHY A. CLARY / AFP)

Dít terwyl alle Covid-19-inentings vir New York Dinsdag inderhaas gestaak is.

“Dit is ’n gevaarlike, lewensbedreigende situasie,” het Andrew Cuomo, die goewerneur van New York, aan verslaggewers gesê.

Volgens die NWS is byna 40 cm se sneeu teen Maandag omstreeks 16:00 aangeteken, waarvan 20 cm binne slegs ses uur geval het. Dit word voorspel dat altesaam 50 cm sneeu Dinsdagoggend in New York sal uitsak, voordat die sneeustorm na verwagting noordoos deur New England sal beweeg.

Sou soveel sneeu wel in New York aangemeld word, sal dit die stad se agtste grootste sneeustorm wees sedert in 1869 boek begin hou is.

“Dit sal na verwagting een van die groter sneeuvalgebeurtenisse vir New York City wees,” het Matthew Wunsch, ’n voorspeller van die nasionale weerdiens, aan AFP gesê.

Mense baljaar in die sneeu in Wall Street, New York. (Foto: Kena Betancur / AFP)

Sneeu word weggeskraap in Queens, New York. (Foto: Dimitrios Kambouris/Getty Images/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vrijburger ·

Mmmm die lib stad sneeu toe terwyl hulle aardverwarming skree. He-he.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.