[Foto’s] Honderde munte uit seeskilpad se maag verwyder

(Foto: Sakchai Lalit)

(Foto: Sakchai Lalit)

ʼn Seeskilpad het Maandag ʼn operasie in Thailand ondergaan waartydens munte uit haar maag verwyder is.

Dit was die eerste operasie van die soort ter wêreld. Die skilpad, gedoop “Spaarvarkie”, is 25 jaar oud en woon in ʼn poel in Sri Ratsja, ʼn kusdorpie 120 km suidoos van Bangkok.

In die operasie wat ses uur geduur het, het vyf veeartse van Bangkok se Chulalongkorn-universiteit soveel as 915 muntstukke wat saam sowat 5 kg weeg, verwyder. Die skilpad weeg 59 kg.

Die veeartse het oorspronklik gedink die skilpad is verlam omdat sy nie haar linkerbeen gebruik het nie. “Dit was ʼn moeilike en uitdagende opdrag,” het Pasakorn Briksawan, een van die veeartse, gesê.

“Nadat ons die munte een vir een verwyder het, kon ons duidelik sien dat die skilpad beter asemhaal,” het Nuntarika Chansoe, ʼn ander veearts, gesê.

Die Thaise vloot het die skilpad na die veeartse gebring nadat hulle haar in die kusdorpie aangetref het en na ʼn seeskilpad-bewaringsentrum geneem het. Die skilpad sal in die natuur vrygelaat word sodra sy voldoende herstel het.

Die munte wat in die skilpad se maag gevind is, was hoofsaaklik van Asië afkomstig. Die munte word in poele gegooi omdat mense glo dat dit geluk sal bring. Indien daar boonop skilpaaie in die poele is, word geglo jy sal ʼn langer lewe hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

DPJ ·

Watter lyding moes die dier deurstaan het.
Hoop Spaarvartjie sterk gou aan.

Griet ·

Ek het nog altyd gedink dit is net kraaie wat van blinkgoed hou, maar dit lyk vir my seeskilpaaie ook! Wat ‘n goeie storie!!

Tammy ·

Hoop Spaarvarkie word gou gesond en gaan nog n lang gesonde lewe he. Sy is immers n dame wat van blinkgoed hou. Mooi storie en leersaam boonop!

Vivian ·

Sal interessant wees om te weet watter land se munte dit us. Seker dalk n gesinkte skat? Bly hy sal leef

Mauzi ·

Hoop die munte was genoeg om vir die operasie te betaal …

Jef ·

Spaarvarkie kan nou met n geruste hart van haar skillie pensioen geniet.

SANNA ·

Dalk is daar n munt in wat baie waarde is LOL wat mense so soek

Positief ·

Wat ‘n oulike storie! Dankbaar dat Sy gered is, arme dierasie… So wonderlik om iets positiefs te lees! Dankie Maroela Media vir die berig.

humor ·

Almal wat van minte hou en dit nie kan weerstaan nie is seeskilpaaie, kraaie, ape en dan z… ook.

Christa ·

G’n wonder ons president en ministers is almal so oorgewig nie!!! Dit laat jou wonder . . . .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.