Foto’s: Inwoners steier ná orkaan Michael

ʼn Lugfoto van die verwoesting in Mexico Beach, Florida nadat orkaan Michael die gebied getref het (12 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Gerald Herbert

Die Amerikaanse deelstate Florida en Georgia steier nog onder die nagevolge van orkaan Michael wat Woensdag die Florida-gebied getref het.

CNN berig die amptelike dodetal van die natuurramp staan tans op 18, maar owerhede meen dit kan verder styg. Die bevestigde sterftes is in vier verskillende state aangemeld.

Minstens 35 mense word nog in die Mexico Beach-gebied vermis. Daar is nog net een bevestigde sterfgeval in dié gebied wat reg in die pad van die orkaan was en deur winde van 250 km/h getref is.

Rick Scott, goewerneur van Florida, het verwoeste buurte Saterdag besoek en pres. Donald Trump sou na verwagting Maandag dieselfde doen. Verskeie gebiede in Georgia en Florida is as rampgebiede verklaar wat dié gebiede toegang tot federale hulpbronne en finansiering sal gee.

ʼn Onbepaalde aantal huise is deur die orkaan vernietig. CBS News berig soveel as 700 000 mense is sonder krag gelaat nadat Michael toegeslaan het. CNN berig minstens 250 000 huishoudings was teen Maandagoggend nog sonder krag.

ʼn Brandbestryder gebruik ʼn boom om by ʼn voertuig onder die water uit te kom om na oorlewendes te soek. Foto: DPA

Inwoners moet in haglike omstandighede oorleef terwyl owerhede skarrel om die gebiede op te ruim en noodsaaklik dienste en tydelike infrastruktuur te verskaf. Volgens CNN staan inwoners in lang rye by verspreidingsentrums om gebottelde water en kospakkies te ontvang. Daar is 17 verspreidingsentrums reg oor Florida en Georgia opgerig waar mense kos en water kan kry, aangesien talle winkels vernietig is of beperkte voorraad het.

Selfoonopvangs was ook ná die orkaan in Mexico Beach ontwrig, maar is intussen grootliks herstel.

The Guardian berig baie inwoners wat deur die orkaan geaffekteer is, is nie in staat om te verhuis na tydelike of nuwe wonings nie. Boonop is talle paaie onbegaanbaar gelaat deur bome en kragpale wat omgewaai het. Vulstasies het ook beperkte voorraad, wat beteken baie inwoners kan nie brandstof bekom om die geteisterde gebiede te verlaat nie.

Reuters berig reddingswerkers is steeds besig om na vermistes te soek en gebruik snuffelhonde, hommeltuie en masjinerie om met die soektog te help. Meer as 1 700 reddingswerkers en byna 300 ambulanse word in dié reddingspogings gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Luister ek na die Afrikaanse nuus wat vertel van die orkaan Michael in Florida en Georgia en vertel direk daarna van die tifoon in (dink dit was Indonesië). Dit het my verbaas want hulle behoort te weet dat ‘n orkaan, sikloon, tifoon, tornado is dieselfde ding. Geen verskil maar word net verskillend genoem in verskillende wêrelddele. Al wat my vervies het is dat die orkaan se naam Michael is. Waarom nie Michelle of so iets nie. Daardie vreeslike storms het tog almal vrouename want die ooreenkoms is, hetsy ‘n vrou of orkaan, as dit jou los, laat dit jou sonder enige iets.

WB ·

Ons kan so dankbaar wees dat sulke verwoestende orkane nie algemeen in Suid-Afrika voorkom nie. Alhoewel, ons het weer die ANC en die EFF…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.