[Foto’s] Iran-Irak-aardbewing: Dodetal styg skerp

Die skade van die kragtige aardbewing wat die grens tussen Iran en die noorde van Irak getref het (13 November 2017). Foto: Pouria Pakizeh/ISNA via AP

Die dodetal van die kragtige aardbewing van 7.3 wat die grens tussen Iran en die noorde van Irak Sondagaand getref het, het tot meer as 330 gestyg.

Iran se westelike Kermanshah-provinsie is die swaarste getref. Iran se staatsnuusagentskap berig 328 mense het in dié land gesterf. Volgens die staatstelevisie is ongeveer 3 950 mense beseer. Die gebied wat geraak is, is ʼn landelike, bergagtige omgewing waar inwoners grootliks op boerdery staatmaak vir hul lewensbestaan.

In Irak is minstens sewe mense dood en ongeveer 535 beseer, almal in die land se noordelike Koerdiese gebied.

Volgens die Amerikaanse agentskap vir geologiese opname was die aardbewing se episentrum 31 km buite die stad Halabja teen ʼn diepte van 23,2 km, ʼn oppervlakkige diepte wat breër skade tot gevolg kan hê. Sosiale media en nuusagentskappe in Iran het foto’s en video’s getoon van mense wat uit hul huise die nag in vlug. Die aardbewing is deur meer as 100 naskokke gevolg.

Kokab Fard, ʼn 49-jarige vrou in Sarpol-e-Zahab in Kermanshah in Iran, het gesê sy moes met leë hande vlug terwyl die woonstelgebou waar sy gewoon het, ineengestort het. “Die oomblik toe ek daarin kon slaag om uit te kom, het die gebou ineengestort. Ek het geen toegang tot my besittings nie,” het Fard gesê.

Reza Mohammadi (51) het gesê hy en sy familie het uit ʼn gebou in ʼn stegie gehardloop nadat hulle die eerste skuddings gevoel het. “Ek het probeer teruggaan om sommige besittings te kry, maar die gebou het heeltemal inmekaargetuimel toe die tweede skuddings begin,” het Mohammadi gesê.

Die krag- en watertoevoer in Sarpol-e-Zahab is onderbreek, terwyl telefoon- en selfoonopvangs ook plek-plek onderbreek is.

Die Iranse leier Ayatollah Ali Khamenei het Maandagoggend sy medelye aan die familie van die oorledenes betuig en reddingswerkers en regeringsagentskappe aangemoedig om alles moontlik te doen om diegene wat geraak is, by te staan. Volgens nuusberigte is minstens 14 provinsies in Iran deur die aardbewing geraak.

In Irak het Haider al-Abadi, die eerste minister, opdrag gegee dat die land se burgerlike verdedigingspanne en “verwante instansies” op die ramp reageer. Turkye het noodhulp na noordelike Irak ontplooi en Binali Yildirim, eerste minister van Turkye, het gesê sy land het onmiddellike stappe gedoen om mediese en voedselhulp aan die noordelike Irak te verskaf.

Volgens The Associated Press is 33 vragmotors met noodvoorraad waaronder 3 000 tente en verwarmers, 10 000 beddens, komberse en kos op pad na die stad Sulaimaniyah in Irak. ʼn Turkse militêre vragvliegtuig het reeds in Irak aangekom.

Iran is geleë op talle groot verskuiwingslyne en beleef byna daagliks skuddings. Minstens 26 000 mense is in 2003 dood toe ʼn aardbewing van 6.6 die stad Bam getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.