[Foto’s] Irma verloor orkaanstatus, saai steeds verwoesting

Foto: AP Photo/David Goldman

Orkaan Irma het Maandag verswak tot ʼn gevaarlike tropiese storm en vloede veroorsaak in Florida se noordoostelike hoek.

Reddingsbeamptes sukkel om by slagoffers uit te kom en die volle omvang van die skade te bepaal.

Die storm het verwoesting gesaai oor die staat se suidelike punt tot gebiede naby die Georgia-lyn en huise en motors is oorstroom, bome is platgevee en bote het in die paaie afgedryf waar talle strate oorstroom is. Talle kraglyne is ook afgebreek en drie yslike konstruksiehyskrane het in Miami en Fort Lauderdale omgeval.

Irma het ʼn vloedrekord van 1964 met ten minste ʼn voet oortref.

“Bly binne tensy jy in gevaar is as gevolg van vloede,” het weervoorspellers gewaarsku. Minstens 46 persone is uit oorstroomde huise in Clay County gered en nog talle is gestrand, het nooddiensbestuurder Joe Ward gesê.

Irma het intussen ook na Georgia uitgewyk en sal na verwagting ook Alabama, Mississippi en Tennessee Dinsdag en Woensdag bereik.

ʼn Waarskuwing vir ʼn tropiese storm is vir die eerste keer in Atlanta uitgereik en skoolbedrywighede is gekanselleer.

Geen sterftes in Florida word in hierdie stadium met die storm verbind nie. Minstens 24 persone is in die Karibiese eilande dood toe Irma verwoesting gesaai het oor verskeie vakansie-eilande.

Irma het Maandagoggend bedaar tot ʼn tropiese storm, met winde van ongeveer 110 km/h.

Meer as 200 000 persone wag in skuilings oor Florida heen. Nagenoeg 4,5 miljoen huise en ondernemings het nie elektrisiteit nie en beamptes het gesê dit kan weke duur voor die kragtoevoer herstel is. Meer as 100 000 persone het nie kragtoevoer in Georgia nie.

Die storm het Sondagoggend Florida getref as ʼn kategorie 4-orkaan voor dit bedaar het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Danie ·

Ons kan seker maar met die desimale stelsel begin werk. Siende dat al lankal (1967) veronderstel is om die norm in Suid-Afrika te wees. Volgens Google: “1 foot = 30.48 centimeters”. Al hoe minder mense hier (SA) verstaan hoe lank a voet is sonder om dit êrens te moet loop opsoek. Wanner ‘n berig vertaal word met die afstande ook vertaal word.

Genieve ·

Ons leef in die laaste dae,dit wat hier gebeur is skrif. Julle sal oorloe,aardbewings en verwoesting op verskillende plekke sien, dan moet julle weet my koms is naby.Lees Openbaring.

Marizaan ·

Julle weet baie goed dat die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag kom.
LEES Thessalonians!

Karma ·

En dan is Orkaan José ook nog oppad – in Irma se voetspore ……… Arme mense en diere!!! Ek sidder om te dink wat sal gebeur as só ‘n storm/orkaan SA moet tref – dit was op sy wydste glo 240km breed!!!!!

Hendrik ·

S.A kan net een ding op ‘n slag hanteer. Dit kan nie Zuma en ‘n orkaan wees nie.

Lee ·

Ai dis verskriklik. Sterkte aan al die mense en diere. Ons bid vir hulle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.