Foto’s: Jong sokkerspan dae later steeds in grot vasgekeer

Personeel van die Amerikaanse soek-en-reddingspan stap in die grot waar die jong sokkerspelers en hul afrigter vermis word (28 Junie 2018). Foto: Sakchai Lalit/AP

Die soektog na ʼn jong sokkerspan en hul afrigter wat al dae lank in ʼn grot in die provinsie Chiang Rai in Thailand vasgekeer is, het Donderdag hervat.

Dit was Donderdag die vyfde dag wat die 12 seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul 25-jarige afrigter in die grot vasgekeer is. “Ons moet die kinders vandag vind. Ons hoop dat hulle nog lewe daar binne,” het Narongsak Osottanakorn, die provinsiale goewerneur, aan verslaggewers gesê.

Reddingswerkers het Donderdag al langs die berghange gesoek vir ander ingange na die oorspoelde grotnetwerk. Voortdurende reënval oor die afgelope paar dae het reddingspogings gekniehalter en die reddingsoperasie moes al telkemale opgeskort en later weer hervat word.

Die vermiste seuns en hul afrigter het die Tham Luang Nang Non-grot Saterdagmiddag binnegegaan. Die groep kom van die stad Chiang Rai af.

Die grotkompleks strek oor etlike kilometers met smal voetpaadjies, oneweredige grond en baie min tot geen lig binne. Besoekers word net toegelaat om die grot so ver as ongeveer 700 m diep binne te gaan, maar daar word vermoed dat die seuns baie dieper as dit ingekruip het.

Die grot is bekend daarvoor dat dit tydens die reënseisoen erg oorspoel. ʼn Kennisgewing by die ingang na die grot, wat ʼn gewilde toeriste-aantreklikheid is, waarsku dat dit gevaarlik is om die grot binne te gaan gedurende die reënseisoen.

Personeel van die Amerikaanse soek-en-reddingspan stap uit die grot waar die jong sokkerspelers en hul afrigter vermis word (28 Junie 2018). Foto: Sakchai Lalit/AP

Die groep het klaarblyklik dié waarskuwing geïgnoreer en in die grot ingekruip. ʼn Parkbeampte het Saterdagmiddag onraad vermoed toe hy ʼn klomp fietse opgemerk het wat by die ingang na die grot staan.

ʼn Amerikaanse militêre span en Britse grotkenners het by die Thaise reddingspanne aangesluit. Daar is Donderdagoggend bekendgemaak dat die watervlakke in die grot deur die nag met ongeveer 15 cm per uur gestyg het, wat dit nog moeiliker maak om deur die nou paadjies in die grot te beweeg.

“Daar is nie veel wat ons nou kan doen nie,” het Anupong Paojinda, minister van binnelandse sake, gesê. “Ons sal moet wag dat die watervlakke daal. Duikers kan nou niks doen nie.” Hy het bygevoeg ʼn sleuteldeurgang in die grot is heeltemal onder water.

Owerhede hoop egter steeds dat daar droë plekke op hoër grond binne die grot is waar die groep moontlik wag om gered te word.

Wirachai Songmetta, die adjunkhoof van die nasionale polisie, het gesê hy sal saam met meer as 600 reddingswerkers probeer om van buite skagte te vind wat moontlik toegang tot die grot kan gee. Die paar skagte wat tot dusver gevind is, kan nie gebruik word om toegang te verkry nie. “Ons sal nie opgee nie. Dít is die belangrike ding,” het hy gesê.

Reddingspersoneel besig met groot pype en waterpompe om te help om water uit die oorspoelde grot te pomp (28 Junie 2018). Foto: Sakchai Lalit/AP

Anupong het intussen gesê daar is drie spesifieke plekke waarop die reddingswerkers fokus, en hulle werk saam met die departement van geologie en hul toerusting om daar verder te soek, byvoorbeeld deur die gebruik van klein kameras.

Sommige van die vermiste kinders se ouers het die nagte van die soektog in tente buite die grot se ingang deurgebring terwyl die reën aanhou val. Donderdagoggend het ʼn Boeddhistiese monnik ʼn gebedsgroep vir die familielede gelei. Baie van hulle was in trane terwyl daar gebid is vir hul geliefdes se oorlewing.

Paramedici sit ook in ʼn tent naby die grot se ingang, met die fietse, rugsakke en sokkerskoene van die seuns wat nog net so by die grotingang lê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SNEL ·

Aarde, hoop hierdie kinders is nog veilig. Maroela moet ons asseblief op hoogte hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.