[Foto’s] Kalifornië-brande: Dodetal styg skerp

Foto: Kent Porter/The Press Democrat via AP

Die dodetal van die verwoestende brande in noord- en suid-Kalifornië het tot 21 gestyg. Ken Pimlott, die hoof van Kalifornië se brandweer, het gesê die brande het in totaal 75 676 hektaar veld in dié deelstaat verwoes. Meer as 20 000 mense moes weens die veldbrande uit die gebied ontruim word.

Duisende mense het Woensdagaand na hul huise begin terugkeer nadat die ontruimingsbevel in Suid-Kalifornië gelig is. Brandweermanne het teen Woensdagaand beduidende vordering gemaak in hul bestryding teen die veldbrand wat 23 geboue, waaronder huise, in dié omgewing vernietig het.

Die veldbrand was teen Woensdagaand 60% geblus nadat dit in Suid-Kalifornië sowat 3 650 hektaar verwoes het. Owerhede hoop om teen Sondag die brand te omring en sodoende te beheer.

Intussen het owerhede in Noord-Kalifornië bekend gemaak hulle werk deur lyste van honderde mense wat as vermis aangemeld is tydens die brande.

Rob Giordano van die Sonoma-polisie het Woensdagaand gesê daar word nou skuilings op die been gebring vir mense wat moontlik besig is om weer hul weg terug te vind na hul huise.

Pres. Donald Trump het Kalifornië Dinsdag as ʼn rampgebied verklaar na aanleiding van die verwoestende brande wat oor agt provinsies gewoed het. Dié verklaring het die federale noodbestuursagentskap (FEMA) toegelaat om addisionele toerusting en hulpbronne aan reddings- en opruimoperasies te voorsien.

Maroela Media het vroeër berig teen Dinsdag was daar tien mense dood en ongeveer 100 beseer. Die brand het glo reeds Sondagaand begin.

Jerry Brown, die goewerneur van Kalifornië, het ʼn noodtoestand in Napa, Sonoma en Yuba verklaar as gevolg van die verwoestende brande. Volgens berigte woed minstens 14 brande oor agt provinsies.

Minstens twee wynplase is tydens die brande verwoes en baie ander het skade gelei. Volgens inwoners is as tot in gebiede naby die Stille Oseaan waargeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Inge ·

Dit is verskriklik! Tot op die grond afgebrand…hoe begin jy oor? Vader, die wereld is in sy glorie in!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.