Foto’s: Kanada in rou ná talle in gru-ongeluk sterf

Die ongelukstoneel buite Tisdale in Saskatchewan, Kanada (7 April 2018). Foto: Jonathan Hayward/The Canadian Press via AP

Justin Trudeau, Kanada se eerste minister, het Sondagaand ʼn nagwaak bygewoon ter ere van die 15 oorledenes wat Vrydag gesterf het in ʼn gru-ongeluk tussen ʼn bus vol yshokkiespelers en ʼn vragmotor.

Die nagwaak is in Humboldt in Saskatchewan gehou. Trudeau het nie ʼn toespraak by die nagwaak gemaak nie, maar het deelgeneem aan die seremonie wat liedere, gebed en Bybelvoorlesings ingesluit het.

Dit kom nadat ʼn vragmotor en ʼn bus Vrydag omstreeks 17:00 op ʼn snelweg noord van Tisdale gebots het. Die Humboldt Broncos jeug-yshokkiespan was op die bus op pad na Nipawin vir ʼn wedstryd toe die ongeluk gebeur het.

Lugfoto’s van die ongelukstoneel het getoon dat die botsing by ʼn aansluiting van twee paaie plaasgevind het. Die gefrommelde wrak van die bus, waarvan die dak afgeruk is, is op die foto’s sigbaar. Hokkiesakke, slaapsakke en ander bagasie het oor die toneel verspreid gelê.

Altesaam 15 mense het in die botsing gesterf en nog 14 is beseer. Tien spelers van die span, almal tussen 16 en 21 jaar oud, is in die ongeluk dood.

Nick Shumlanski, ʼn speler van die Humboldt Broncos wat die gru-ongeluk oorleef het, het die nagwaak bygewoon nadat hy vroeër die dag uit die hospitaal ontslaan is (8 April 2018). Foto: Jonathan Hayward/Pool via Reuters

Curtis Zablocki, die plaaslike assistent-polisiekommissaris, het gesê die bestuurder van die vragmotor, wat nie in die botsing beseer is nie, is aanvanklik deur die polisie aangehou, maar is later vrygelaat. Zablocki het gesê mediese behandeling en berading is aan die vragmotorbestuurder verskaf.

Die BBC berig talle hokkiespanne van reg oor Kanada het die afgelope naweek hulde aan die oorledenes gebring. Baie mense het ook aangebied om geld te skenk vir die oorledenes se families en dié wat die ongeluk oorleef het. Volgens BBC is daar reeds miljoene dollar deur skarefinansieringswebtuistes ingesamel.

Verskeie wêreldleiers het ook hul medelye met Kanada betuig, insluitend pres. Donald Trump.

Kevin Garinger, president van die Humboldt Broncos, het gesê die klub is “hartseer en heeltemal platgeslaan” deur die tragedie. The Globe and Mail berig Garinger het tydens ʼn mediakonferensie gesê die impak van die tragedie is “onbegryplik”.

“Ons is geskok en in rou. Alles rondom hierdie tragedie is ongekend,” het Garinger gesê.

Bill Chow, president van die hokkieliga, was ook baie emosioneel op die mediakonferensie. “Die ergste nagmerrie het gebeur.”

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oom Kalahari ·

Dit is hartseer en inderdaad ‘n groot verlies aan sportmanne en vroue. Aan al die families, vriende, sport vereenigings alle simpatie en wens jul alle sterkte toe in hierdie rou tydperk.

White Rhino ·

Ai dis vreeslik – kry die ouers, familie , vrienede uit my hart uit jammer.
Sterkte vorentoe.

Engela de Klerk ·

Hokkie is Kanadees. Hokkie IS Kanada en spanne reis vêr en wyd vir wedstryde. Hierdie tragedie blyk dat die fout moontlik die busbestuurder was – dalk net nie op daardie stadium aandag gegee aan die pad, maar die trokbestuurder het gestop by die rooilig en stadig weg gery en dis in daardie stadium wat die bus hom getref het. Ons is in rou.

Duidelik ·

Duidelik het die trok die bus se voorkant vermorsel (ook die dak is afgeruk) waarna beide se momentum hul tot stilstand gebring het en waar foto’s geneem is na die ongeluk. Daar is media wat dit so bevestig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.