Brittanje het Saterdag tydens ’n afstandseremonie afskeid geneem van kapt. sir Tom Moore wat verlede jaar miljoene euro’s vir liefdadigheid in Brittanje ingesamel het deur in sy agterplaas met sy loopraam te stap.
Moore se familie het vroeër vandag ’n klein seremonie by ’n krematorium in Bedford in Engeland gehou. Soldate het ’n erewag tydens die seremonie gevorm wat op Britse televisie uitgesaai is.
Slegs sy twee dogters, Hannah Ingram-Moore en Lucy Teixeira, vier kleinkinders en skoonseuns het die seremonie bygewoon.
Moore is vroeër vandeesmaand dood weens Covid-19. Hy was 100 jaar oud.
Ses soldate van die Yorkshire-regiment, die opvolger van die regiment waarin Moore tydens die Tweede Wêreldoorlog gedien het, het sy kis gedra. Die kis was gedrapeer met die Union Jack (Britse vlag) en sy militêre pet en swaard. ’n Groep van 14 soldate het saluutskote afgevuur.
’n Vliegtuig uit die Tweede Wêreldoorlog het later in ’n verbyvlug hulde gebring. Moore sou ná die seremonie veras word.
Maroela Media het vroeër berig Moore het in April verlede jaar net voor sy 100ste verjaardag harte oor die hele wêreld laat vermurwe toe hy £39 miljoen (sowat R840 miljoen) vir liefdadigheid in Brittanje ingesamel het deur in sy agterplaas met sy loopraam te stap.
Die familie het ’n aanlyn boek van medelye opgestel waarin duisende mense hul medelye kon betuig.
“Rus in vrede, kaptein sir Tom. Voorwaar ’n goeie lewe en ’n inspirasie vir ons almal – ’n lig in baie donker dae,” lui een boodskap.
“Jou moed en vasberadenheid om jou doel te bereik en die geld wat jy ingesamel het, was ongelooflik,” het ’n ander geskryf.
Hulle word nie meer so gemaak nie. Ware held. Moet gesalueer word. Selfs op sy oudag meer van ‘n vegter as die oorgewig narre in die saw.