Die Britse koninging het na bewering haar kleinseuns se vroue aangesê om hulle bakleiery te laat staan en ʼn vreedsame front voor te hou tydens ʼn Kersdagdiens in Sandringham, ʼn koninklike landgoed in Norfolk.
Haar Majesteit koning Elizabeth II en prins Charles het na bewering daarop aangedring dat die onenigheid tussen die twee hertoginne, Catherine en Meghan, uit die openbare oog gehou word waar hulle saam met hul mans, prinse William en Harry, by die kerk op die landgoed opgedaag het, berig die Daily Mail.
Blykbaar het hulle die opdrag ter harte geneem, want op pad na die kerk het hulle loop en lag en gesels terwyl fotograwe hulle ywerig afgeneem het.
ʼn Koninklike bron het aan The Sun gesê: “Dit was effens ongemaklik.”
Volgens ʼn ander bron het die koningin en Charles tot dusver toegelaat dat die situasie hom uitspeel sonder om onnodig in te meng, maar albei het dit duidelik gemaak Kersfees is ʼn tyd wanneer die hele koninklike familie in vrede bymekaarkom.
“Dit het beteken dat die twee paartjie die kerk binnegestap het as die ‘Fab Four’ nes verlede jaar. Ja, dit was ongemaklik en eienaardig gegewe wat die afgelope jaar gebeur het, maar die alternatief van selfs meer wrywing, en dit op Kersdag, was net ondenkbaar.”
Twee bewonderaars wat buite die kerk op die koninklikes gewag het, Daniel Chapman (25) en sy ma, Susan Chapman (52), het Kate ʼn ruiker gegee.
“Kate het na ons toe gestap, die ruiker gevat en my en my ma ʼn geseënde Kersfees toegewens,” het Daniel aan The Sun gesê.
“Ons het almal agterna gesê dit het nie gelyk asof daar enige van die vyandigheid was waaroor gerugte die ronde doen nie.
“Hulle het almal gelag en grappies gemaak. Daar was geen teken van enigiets ongemakliks tussen hulle nie. Almal was op hul gemak.”
Die koninklikes het ná kerk in die koningin se landhuis bymekaargekom vir middagete van braaikalkoen, gevolg deur gestoomde vrugtepoeding, voor almal hul plek voor ʼn TV ingeneem het om die koningin se Kersboodskap om 15:00 te kyk.