Foto’s: Kersiebome blom vroeg in Japan

Plaaslike besoekers bekyk die kersiebloeisels vanjaar. (Foto: Philip Fong/AFP)

Die kersiebome in Japan blom vanjaar vroeër as gewoonlik. Dit is glo as gevolg van klimaatsverandering, het die land se nasionale weerdiens gesê.

Kersiebloeisels in Kioto, die voormalige hoofstad van Japan, het reeds op 26 Maart begin blom. Dit is ongeveer tien dae vroeër as gewoonlik en die vroegste wat dit al in dié gelyknamige prefektuur geblom het sedert die regering die blomseisoen in 1953 begin monitor het.

“Ons rekords toon dat die begin van die kersieblomseisoen verband hou met die gemiddelde temperatuur in Februarie en Maart,” het Shunji Ambe, beampte van die Japanse meteorlogiese agentskap, gesê.

“Ons waarnemings dui daarop dat plante soos kersie- en pruimbloeisels vroeër blom terwyl herfs later kom. Ons glo dat hierdie verskynsels aan die stygende temperatuur van die aarde te danke is.”

Mense geniet die kersiebome by die Inokashira-park in Tokio. (Foto: Philip Fong/AFP)

Oor die algemeen is Tokio se kersiebome in volle blom teen 2 April. Vanjaar was die hoofstad se kersiebloeisels reeds teen 22 Maart in volle blom. Kersiebome in Tokio het voorheen al op 16 Maart begin blom.

Uit die 58 amptelike kersiebome wat besigtig kan word in Japan het 24 daarvan op die vroegste datum op rekord begin blom en 14 in ʼn rekordtyd ten volle geblom. Meeste van dié bome is van die bekendste sojosjino-variëteit wat bekend is vir witpienk blomme en net vir ʼn beperkte tyd in die seisoen blom.

Navorsers wat antieke Japannese gedigte en historiese verslae bestudeer sê die kersiebloeisels van ander wilde variëteite was ook eeue gelede in Japan te siene.

Japan se kersieblomseisoen is jaarliks ʼn hoogtepunt by plaaslike en internasionale besoekers. Tradisioneel word dit gevier met uitstappies en pieknieks onder die bome. Weens die Covid-19-pandemie word uitstappies soos dié egter ontmoedig.

‘n Man neem ‘n foto van sy hond by die kersiebloeisels. (Foto: Philip Fong/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vrijburger ·

Mmmm nou is dit “klimaatsverandering” nie meer ‘aardverwarming’ nie. Net ingeval, soos hier in Texas die jaar, die ‘aardverwarming’ teorie nie so lekker uitwerk nie.

Ewenwel, die bloeisels in Japan moet iets wees om te aanskou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.