Foto’s: Kilauea-vulkaan in Hawaii bly borrel

Foto: AP Photo/Marco Garcia

Minstens nege huise is teen Sondag verwoes weens lawa wat uit die grond opborrel nadat die Kilauea-vulkaan in Hawaii uitgebars het.

Meer as 1 700 persone wat ontruim is, moet nou vir die moontlikheid voorberei dat hulle dalk vir ʼn lang ruk nie sal kan terugkeer huis toe nie.

“Ek het nie ʼn idee hoe vinnig ons sal kan terugkeer nie,” het Todd Corrigan, wat Vrydag saam sy vrou hul huis in Leilani Estates verlaat het, toe lawa ongeveer drie blokke ver van hul huis uit die grond begin bars het. Hulle het daardie aand in hul motor op die strand geslaap en het daarna ʼn vakansiehuis, wat hulle kan huur, begin soek.

Owerhede het gesê twee nuwe skeure het Saterdagaand oopgemaak en dit bring die aantal skeure ook op nege te staan sedert verlede Donderdag. Slegs een van die skeure is aktief en lawa borrel daaruit, het woordvoerder Janet Snyder gesê.

Wendy Stovall, vulkanoloog by USGS, het gesê lawa het Saterdagaand tot 70 m hoog in die lug gespoeg.

Wetenskaplikes het gesê Kilauea sal waarskynlik nog lawa deur bykomende skeure vrylaat, maar hulle kan nie voorspel presies waar dit sal gebeur nie. Leilani Estates, ʼn gebied in die hoofsaaklik plattelandse distrik van Puna, loop die ergste deur. Owerhede het 1 700 inwoners gedwing om te ontruim.

Honderde klein aardskuddings het Saterdag nog in die gebied voorgekom, een dag ná ʼn aardbewing van 6.9 – die grootste aardbewing wat Hawaii in 40 jaar tref.

Owerhede het inwoners ook gewaarsku teen swaelsuurgas wat uit die gate stoom. Dit is veral gevaarlik vir bejaardes en persone met asemhalingsprobleme. Owerhede het gesê, afhangend van die toestande, sal sommige inwoners toegelaat word om vinnig huis toe te keer om noodsaaklike medikasie of dokumente te kry of om troeteldiere te versorg.

Tesha Montoya (45) het gesê die dreigement van giftige gasse was nie genoeg om hulle te laat ontruim nie, dit was eerder die aardskuddings. “Dit het gevoel of die een kant van ons huis gaan ontplof,” het sy gesê. “Die aardskudding het ons oorgehaal om te begin hardloop en met ons troeteldiere te vlug.”

Montoya, saam met haar man en dogter, weet nie hoe lank dit sal duur voor hulle na hul agthoekige huis, wat hulle nagenoeg 20 jaar gelede “in ʼn wilde oerwoud” gebou het, sal kan terugkeer nie. “My hart en siel is daar,” het sy in ʼn telefoniese onderhoud gesê. “Ek is niks sonder die grond nie. Dis deel van my wese.”

Gary McMillan het gesê sy huis is ongeveer 900 m van een van die skeure in Leilani Estates. Hy het afstandsbeheerde kameras buite sy huis en kan die gebied só monitor. Hy het gesê sy huis is steeds veilig. Hy woon nou saam met sy vrou in hul stasiewa naby ʼn gemeenskapsentrum en dink deurgaans aan dit wat hulle agtergelaat het, maar begryp waarom die owerhede inwoners laat ontruim het.

Kilauea is een van die wêreld se mees aktiewe vulkane. Lawa het in 2014 uitgeborrel en ʼn huis en begraafplaas in Pahoa, die dorp naaste aan Leilani Estates, verwoes. Die lawa het egter gestop net voor dit die hoofpad in Pahoa getref het. Lawa het 30 jaar gelede geleidelik, oor ʼn jaar lank, uiteindelik ʼn hele dorp, Kalapana, bedek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

leser ·

wat ‘n jammerte vir al die mense wat moet “vlug” voor die vulkaan se lawa wat alles in sy pad verteer, sterkte aan almal daar.
afgesien van al die geweld in sa, bly dit nog ‘n land waar dit lekker is om te lewe, geen aktiewe vulkane, tornado’s, siklone, ens., nie

Lulu ·

Beslis soos jy se…ons het weer ander dinge waarvoor ons moet bang wees. Ek hoop hierdie eindig nie in ‘n grootskaalse tragedie nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.