Foto’s: Kitsfeite oor die Notre Dame-katedraal

Foto: (AP Photo/Thibault Camus)

Notre-Dame de Paris, die wêreldberoemde Middeleeuse Rooms-Katolieke katedraal in die hartjie van Parys in Frankryk, is in 1345 voltooi nadat daar byna 200 jaar vantevore met bouwerk begin is.

Die katedraal is Maandagaand erg beskadig in ʼn brand. Die katedraal word beskou as een van Parys se bekendste toeristeaantreklikhede en lok jaarliks sowat 13 miljoen besoekers.

Dit is egter nie net ʼn historiese monument en deel van ʼn Wêrelderfenisgebied nie, maar word ook bestempel as die “huis van God en die woning van die mense”.

Maurice de Sully, biskop van Parys, het die idee gehad om die katedraal te laat bou en konstruksie is in 1163 begin tydens die regering van koning Louis VII.

Die katedraal, wat beskou word as een van die beste voorbeelde van die Franse Gotiese argitektuur, is tydens die Franse rewolusie erg beskadig. Napoleon Bonaparte is in 1804 in die katedraal as keiser van Frankryk ingehuldig.

Die Notre Dame-katedraal Dinsdagoggend (16 April 2019) ná die brand. (Foto: AP Photo/Kamil Zihnioglu)

Die katedraal het weer aandag begin trek nadat Victor Hugo se roman, Notre-Dame de Paris, later vertaal as The Hunchback of Notre-Dame, in 1831 gepubliseer is. Daar is in die 1840’s met restourasie- en skoonmaakwerk begin.

Die katedraal is 130 m lank, 48 m wyd en 35 m hoog. Die twee kloktorings is 68 m hoog en daar is 380 trappe om die bokant van die katedraal te bereik. Die dak wat nou verwoes is, was van hout gemaak en die houtraamwerk is van 1 300 eikebome gemaak. Die binne-area van die katedraal is sowat 4 800 m².

Daar is talle onvervangbare artefakte en kunswerke wat in die katedraal bewaar word. Een hiervan is die “heilige kroon” wat glo die doringkroon was wat op Jesus se kop geplaas is toe hy gekruisig is. Dié reliek kon saam met talle ander waardevolle artefakte uit Maandag se brand gered word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JoeFra ·

My stappie werk toe gaan nooit weer dieselfde wees sonder die toring nie. Tragies.

Johannes ·

Voorwaar ‘n monument van Europese vindingrykheid, vooruitstrewing, Christelike waardes en die opbou van ‘n beskawing.

Intussen in Afrika (en Suid Afrika!) brand, verniel en vernietig ons mede-burgers graag historiese geboue en monumente…

Sandy ·

Ek se net dankie Vader dat die “Heilige Kroon” gered was van die brand.

jaco ·

Aanbid eerder die Een wat die doringkroon (geen heilige kroon nie) gedra het en leef volgens die beginsels in Sy Woord.

Alida ·

Dit is n verskriklike ding. Mens is skoon hartseer. Dit was gelukkig nie mense se skuld nie dit is n super 1ste wereld. In SA sal hulle om die vuur dans van lekker.

Landi ·

In die derde paragraaf word daar gese dat die Norte Dame Katedraal nie deel is van ‘n Wêrelderfenisgebied nie, maar op UNESCO se webwerf word dit genoem dat die Norte Dame Katedraal in 1991 op die lys van Wêrelderfenisgebiede geplaas is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.