[Foto’s] Kletsrymer vas ná nagklub-skietery

Die Power Ultra Lounge in Little Rock in Arkansas in die VSA waar die skietvoorval plaasgevind het. Foto: AP Photo/Kelly P. Kissel

Een persoon is in hegtenis geneem in verband met ʼn skietvoorval by ʼn nagklub in Little Rock in Arkansas in die VSA, waartydens minstens 28 mense beseer is.

Altesaam 25 mense is gewond en nog minstens drie beseer tydens die skietery Saterdag in die vroeë oggendure in die Power Ultra Lounge. Die plaaslike polisie het gesê daar word vermoed dat verskeie mense vuurwapens afgevuur het, maar die voorval word nie met terreur verbind nie.

Kenton Buckner, hoof van die polisie, het gesê dit is danksy die vinnige reaksie van nooddienspersoneel dat niemand in die skietvoorval gesterf het nie. Twee mense was teen Saterdagmiddag nog in ʼn kritieke toestand.

ABC News berig ʼn kletsrymer, Ricky Hampton, ook bekend as Finese 2Tymes, wat by die nagklub opgetree het toe die skietery plaasgevind het, is Sondag in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Courtney Swanigan (23), een van die mense wat in die klub was, het aan Associated Press gesê die skote het net onverwags in die nagklub begin klap. “Ek het net my oë toegeknyp, op die grond gelê en my hande oor my kop gesit,” het sy gesê.

Mark Stodola, burgemeester van Little Rock, het gesê vuurwapens “moet uit die hande van die verkeerde mense gehou word”. Hy het gesê mense moet ook nie nagklubs ondersteun wat geweld aanmoedig nie. Bemarkingsmateriaal vir Finese 2Tymes se optrede by die nagklub het ʼn man getoon wat ʼn vuurwapen op die kamera rig.

“ʼn Bemarkingsvideo met ʼn vuurwapen op die voorkant het mense genooi na die konsert. Dit moet totaal onaanvaarbaar wees in ons gemeenskap,” het Stodola gesê. Hy het gesê die nagklub sal gesluit word en dat die klub se alkohollisensie intussen opgeskort is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.