Foto’s: Koningin Elizabeth II vier 70 jaar op die troon

(Foto: @RoyalFamily/Twitter)

Koningin Elizabeth II het Sondag die eerste Britse monarg geword om sewe dekades lank te regeer, en het haar “opregte wens” aangekondig dat Camilla, die vrou van haar erfgenaam prins Charles, uiteindelik as gemalin van die koning bekend moet staan.

Brittanje se langsdienende monarg het op 6 Februarie 1952 in die ouderdom van 25 die troon bestyg na die dood van haar pa, koning George VI.

Sy het die geskiedkundige dag by Sandringham, haar landgoed in Oos-Engeland en waar haar pa gesterf het, gevier.

Koningin Elizabeth II en haar man, prins Philip, die hertog van Edinburgh, op 2 Junie 1953, die dag wat sy ingehuldig is as koningin. (Foto: Intercontinentale/AFP)

Indien die koningin se wens vir Camilla (74), hertogin van Cornwall, realiseer, sal sy bekend staan as koningin Camilla, aldus koninklike kenners.

Prins Charles het gesê die egpaar is “diep bewus van die eer wat deur my ma se wens verteenwoordig word”, wat Camilla die volle titel van ’n monarg se vrou sal gee.

Die troonopvolger het ook hulde gebring aan die koningin se “toewyding aan die welsyn van al haar mense”, wat “met elke jaar wat verbygaan nog groter bewondering aanvuur”.

Camilla is lank veroordeel vir haar rol in die verbrokkeling van Charles se huwelik met prinses Diana. Toe die egpaar in 2005 getroud is, het die koninklike familie aangekondig dat sy bekend sou staan as gemalin van die prins nadat Charles koning geword het.

Buckingham-paleis het Sondag ’n foto vrygestel van koning Elizabeth II wat die week by Sandringham geneem is, wat wys hoe sy werk aan een van haar beroemde rooi versendingbokse wat vir staatssake gebruik word. Agter haar is ’n foto van haar oorlede pa.

Koningin Elizabeth II sit op 14 Oktober 2019 op die Sowerein se troon in die House of Lords terwyl sy die Koninginstoespraak lewer tydens die staatsopening van die parlement in Londen. (Foto: Paul Edwards/POOL/AFP)

Met die belangrikste Platinum Jubilee-vieringe wat vir Junie vasgestel is, het premier Boris Johnson gesê hy sien daarna uit “wanneer ons as ’n land sal kan saamkom om haar geskiedkundige bewind te vier”. Hy het ook die koningin se “inspirerende pligsbesef en onwrikbare toewyding” geprys.

Vier dae van feesvieringe word vir vroeg in Junie beplan, wat saamval met die herdenking van haar 1953-kroning, onder andere ’n militêre parade en musiekkonsert en straatpartytjies.

Koningin Elizabeth II het in September 2015 koningin Victoria se 63 jaar en sewe maande op die troon oortref.

Ná haar man Philip se dood in April verlede jaar, het die koningin teruggekeer na openbare en amptelike verbintenisse, onder meer om gasheer te speel vir wêreldleiers by die G7-beraad.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Samuel ·

Veelsgeluk aan koningin Elizabeth. Mag sy nog geseënde jare geniet.

Erik ·

Baie respek vir haar! Kan altyd so lekker lag vir die kommentare op berigte oor haar. Mense wat haar blameer vir die Boereoorlog (al was sy nog nie eers gebore nie) of mense wat sê sy moet aftree (iets wat sy nie kan doen nie, want dis nie hoe dit werk nie) ens.

Marcello ·

So het Camilla nou die eer ontvang, maar tog het sy Prins Charles se huwelik met Diana vernietig. Watse voorbeeld stel die Koniging van waardes vir haar landsgenote, sy keur dit dan goed.

Erik ·

Hoekom het slegs sy dit vernietig? Charles onskuldig volgens jou?

Marthinus W ·

Charles was verlief op Camilla en sou met haar wou trou, maar mammie wou dit nie he nie; hy moes trou met iemand “meer aristokraties”. Dit was Diana. Sy het egter in onderhoude erken dat daar, soos die liedjie gaan “a stranger in my house” is.

Carolina ·

Na haar moet hulle die deure sluit, dit is 2022 en tyd dat hulle begin werk in plaas van om op die belasting betalers te teer !

Marthinus W ·

Die Nederlandse monargie is die duurste in Europa (volgens n studie wat in Nederland gedoen is.) Die Britse monargie is tegnies gesproke duurder, maar die koningin en Charles betaal vrywilliglik belasting, en hulle verdien geld uit toere, promosieprodukte, ens. Charles se huis, Highgrove, spesialiseer in organiese vrugte/groente. (William se eerste buitelandse toer was na die Saudi-Arabie, volgens die wat weet om die monarg se oliebelange te bespreek.)

annie ·

Die viering van haar 70 jaar op die troon maar Charles dwing sy ma om Camilla se belange eerste te stel. Die 2e vrou van Charles is net so erg soos Megan. Wat ‘n sirkus tog, die Britse koningshuis deur die eeue. Dié twee oudstes gaan vir lekker nuus sorg wanneer hul binnekort die troonkamer beset.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.