Foto’s: Kruisiging in Filippyne nagemaak

Maryjane Sazon (39) (Foto: AP Photo/Aaron Favila)

Rooms-Katolieke aanbidders in die Filippyne, insluitend ʼn vrou, is aan kruise vasgemaak tydens Goeie Vrydag-uitvoerings van Jesus Christus se lyding. Duisende persone het die gruwelike uitvoering dopgehou, maar kerkleiers het die optrede veroordeel.

Minstens drie van die agt aanbidders het krone van takke gedra toe hulle aan die kruise vasgemaak is deur inwoners noord van Manila, wat soos Romeinse soldate aangetrek was.

Die spektakel in San Pedro Cutud is ʼn unieke mengsel tussen Katolisisme, kerktradisies en bygelowe. Meeste van diegene wat wil boete doen, ondergaan ʼn ritueel waar hulle hul sondes bely, vir siekes of ʼn beter lewe bid, of danksegging doen vir dit wat hulle glo Godgegewe wonderwerke is.

Kerkleiers het egter die dade veroordeel, veral as dit gebruik word om toerisme te bevorder. Die kruisigings het egter ʼn al hoe groter toeristeaantreklikheid geword in Pampanga, ongeveer 80 km noord van die hoofstad.

Die kruisigings is al ʼn tradisie vir plaaslike inwoners, maar talle oorsese besoekers is verward oor die gebeure. “Dis verskriklik,” het Luke Henkel van Florida gesê. “Mens wil dit stopsit!”

Burgemeester Edwin Santiago van San Fernando, waar San Pedro Cutud geleë is, het gesê meer as 400 polisiebeamptes is ontplooi en noodhulpstasies is ingerig. “Ons bied bystand omdat ons nie die getal toeriste kan keer nie. Ons bemark dit nie as ʼn fees nie, maar om respek te betoon aan plaaslike tradisie.”

Inwoners maak van die geleentheid gebruik om kos, water, waaiers, sambrele en aandenkings te verkoop. Parkeerplekke en toilette word ook uitverhuur. ʼn Plaaslike selfoonmaatskappy het tente opgerig vir skaduwee.

Ruben Enaje (AP Photo/Aaron Favila)

Aartsbiskop Socrates Villegas het gesê Katolieke moet eerder bid en dade van liefde en liefdadigheid betoon. “In plaas daarvan dat jy jou bloed in die strate stort, hoekom loop jy nie eerder by ʼn Rooikruis-kantoor in en skenk bloed nie? Kies om die lewe te deel. Skenk bloed,” het Villegas in ʼn verklaring op ʼn Katolieke kerk se webwerf gesê.

Vrydag se kruisiging is die 32ste keer vir Ruben Enaje (57), wat met dié jaarlikse ritueel begin het toe hy oorleef het nadat hy van ʼn gebou afgeval het. Hy beplan om daarmee op te hou wanneer hy 60 jaar oud is.

Maryjane Sazon (39), wat by ʼn skoonheidsalon werk, het gesê sy het sewe jaar gelede aan die kruisigings begin deelneem in die hoop dat sy van erge hoofpyn en senuwee-ineenstortings genees sal word. Haar kruisiging word Vrydag aan haar siek suster opgedra.

Voor die kruisigings het talle manlike boetedoeners ʼn paar kilometer deur die dorp se strate afgelê en hul kaal rûe met stokke geslaan. Sommige het hul rûe laat sny om dit bloederig te hou.

Uitlanders word verbied om aan die kruisigings deel te neem nadat ʼn Australiese komediant ʼn paar jaar gelede onder ʼn vals naam naby Pampanga aan ʼn kruis vasgemaak is. Owerhede glo ʼn Japannese man wou ook in 1996 gekruisig word as deel van ʼn pornografiese fliek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jean ·

Hulle het nie ‘n idee wat Hy as sondelose Seun van God moes deurgaan en die hele wêreld se sonde op Hom geneem het nie…….die donkerte, die boosheid en die hel….. Nee wat, hierdie klompie speel….

GB de Beer ·

As dit al is wat MAROELA MEDIA te sê het oor Goeie Vrydag, plaas dan liewer geen berig nie.

Daan ·

Ek kon nog nooit christene se beheptheid met n kruis vestaan nie ons Vader is gekruisig en aan n kruis opgehang hoekom hou ons kruise en vedoem dit nie?

Johann Marx ·

Teveel mense steek vas by die gebeure en die metode…………in plaas daarvan om te fokus op die rede, die gevolg, die resultaat en die impak daarvan………ja, ook vir jou!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.