Foto’s: Krygswet in Thailand “nie staatsgreep”; media verbied

Foto: Voice TV

Foto: Voice TV

Die weermag in Thailand het Dinsdag ʼn krygswet afgekondig ná maande lange gewelddadige anti-regeringbetogings. Gewapende soldate is in Bangkok ontplooi en pas sensuur toe op die media.

Die weermag hou vol dit is nie ʼn staatsgreep nie.

Gewapende soldate en militêre voertuie is in die hartjie van die hoofstad se winkel- en hoteldistrik te sien. Soldate is ook by televisiestasies ontplooi en uitsaaidienste is opgeskort.

Die afdanking van eerste minister Yingluck Shinawatra vroeër vandeesmaand tydens ʼn omstrede hofuitspraak, het spanning in die koninkryk laat opvlam. “Rooi hemp”-ondersteuners van Yingluck en haar broer Thaksin Shinawatra, het gewaarsku dat ʼn burgeroorlog kan uitbreek indien ʼn leier, wat nie verkies is nie, aangestel word.

Daar is al vir meer as 10 jaar lank spanning in Thailand tussen die koninklike establishment, wat deur gedeeltes van die leër, regstelsel en Bangkok-elite ondersteun word, en die miljardêr Thaksin-gesin wat tradisioneel sterk deur die arm en plattelandse kiesers in die noorde ondersteun is. Thaksin, wat in die buiteland woon om tronkstraf vir korrupsie vry te spring, het op Twitter gesê die krygswet was “te wagte”, maar moenie die demokrasie “vernietig” nie.

Thailand is al sedert Desember sonder ʼn volle regering en regeringspandering is onderbreek, beleggers is afgeskrik en buitelandse toeriste is ontmoedig om die land te besoek.

Amerika het gemaan dat die krygswet slegs tydelik moet wees en versoek alle partye om “demokratiese beginsels te respekteer”.

Die weermag het op die televisie ʼn aankondiging gemaak dat die krygswet ingestel is om “vrede en orde te herstel vir mense van alle kante”. “Dit is nie ʼn staatsgreep nie,” het die aankondiging gesê. “Die publiek hoef nie paniekerig te wees nie, maar kan normaal met hul lewens voortgaan.”

Die krygswet behels die volgende:
– betogers in Bangkok mag nie buite hul betogingsperseel optogte hou nie;
– tien polities-geaffilieerde satelliet- en kabeltelevisiestasies, insluitend dié wat deur pro- en anti-regeringsbewegings finansier word, mag nie meer uitsaai tot verdere kennisgewing nie;
– televisie- en radiostasies moet gereelde programme onderbreek vir weermaguitsendings;
– enige uitsending of publikasie wat “onrus kan aanhits” word verbied; en
– die polisie moet versterkings aan die weermag oorhandig indien versoek.

Soldate het gewoonlik ook die reg onder ʼn krygswet om enige privaateiendom te betree en te deursoek en beslag te lê op enigiets om die vrede te bewaar.

Intussen het inwoners in Bangkok nie gehuiwer om foto’s van hulself saam met die soldate te neem nie. Die soldate het goedhartig ingewillig.

Klik hier om nog foto’s te sien.
-SAPA

Selfie-foto Foto: AP Photo/Kiko Rosario (SAPA)

Selfie-foto Foto: AP Photo/Kiko Rosario (SAPA)

Foto: Voice TV

Foto: Voice TV

Foto: Voice TV

Foto: Voice TV

Foto: Voice TV

Foto: Voice TV

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.