[Foto’s] Londen deur nog ʼn terreuraanval getref

Polisiebeamptes het die gebied rondom die Finsbury Park-moskee afgesper (19 Junie 2017). Foto: Yui Mok/PA via AP

Minstens een mens is dood en tien ander beseer toe ʼn man Maandag in die vroeë oggendure met sy voertuig in voetgangers naby ʼn moskee in die noorde van Londen ingejaag het.

Die voorval het kort ná middernag gebeur terwyl ʼn groep Moslems ná ʼn Ramadan-viering die Finsbury Park-moskee verlaat het. Die Londense polisie het gesê die 48-jarige voertuigbestuurder is deur omstanders aangekeer en op die toneel gehou totdat die polisie opgedaag het. Hy is in hegtenis geneem en is as voorsorgmaatreël na ʼn hospitaal geneem. Hy sal ook sielkundige waarneming ondergaan.

Volgens die polisie is agt mense na ʼn hospitaal gehaas terwyl twee ander op die toneel vir geringe beserings behandel is. Ooggetuies het gesê hulle het gesien hoe paramedici hartmassering op minstens een van die beseerdes toepas.

Die gebied rondom die moskee is deur die polisie afgesper en ʼn polisiehelikopter het oor die toneel gevlieg. Die moskee is naby die Emirates-stadion, die tuisveld van die Arsenal-sokkerklub.

Plaaslike inwoners van die gebied neem deel aan ʼn gebed buite die Finsbury Park-moskee (19 Junie 2017). Foto: Yui Mok/PA via AP

ʼn Leier van die Moslemraad van Brittanje het gesê ekstra veiligheidsmaatreëls moet by Moskees ingestel word. Harun Khan, die groep se algemene sekretaris, het die voorval as ʼn haatmisdaad teen Moslems beskryf. Sadiq Khan, Londen se burgemeester, het die voorval as ʼn “verskriklike terreuraanval” bestempel en gesê ekstra polisiebeamptes sal ontplooi word.

Beeldmateriaal van die toneel wat kort ná die voorval geneem is wys hoe ʼn wit man deur die polisie in hegtenis geneem word. Op die video kan gehoor word hoe iemand vir die skare skree om nie aan die man te raak nie.

Mohammed Kozbar, voorsitter van die Finsbury Park-moskee, het gesê die Moslem-gemeenskap is in skok. Hy het ook gekla dat hoofstroommedia vir ure ná die voorval dit glo nie as ʼn terreuraanval wou bestempel nie.

Theresa May, Britse eerste minister, het gesê die voorval was ʼn “potensiële terreuraanval” en het gesê die kabinet sal Maandag ʼn noodvergadering hieroor hou. Sy het haar medelye aan die oorledene se familie en die beseerdes uitgespreek.

Polisiebeamptes het die gebied rondom die Finsbury Park-moskee afgesper (19 Junie 2017). Foto: Yui Mok/PA via AP

Brittanje se terreur-waarskuwingsvlak is tans op “ernstig”, wat beteken ʼn terreuraanval is hoogs waarskynlik. Dit kom nadat ʼn bussie vroeër vandeesmaand in voetgangers op die Londen-brug ingeploeg het. Agt mense het tydens hierdie aanval gesterf en talle is beseer. Drie Moslem-ekstremiste wat die aanval uitgevoer het, is deur die polisie doodgeskiet.

Manchester is ook verlede maand by ʼn Ariana Grande-konsert deur ʼn bomaanval geruk waartydens meer as 20 mense dood is.

In Maart vanjaar is ses mense dood en minstens 29 beseer toe ʼn aanvaller met ʼn motor in voetgangers op die Westminster-burg ingejaag het voordat hy ʼn polisiebeampte binne die hekke van die parlement met ʼn mes doodgesteek het. Polisiebeamptes het die aanvaller doodgeskiet. Hy is later as Khalid Masood (52) geïdentifiseer en die Islamitiese Staat (Isis) het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Michael ·

Dit is wat gebeur as n land die grense oopmaak vir muslim ekstremiste jy word n gas in jou eie land .Gadaffi het voorspel dat die muslim europa sal oorval sonder om een skoot te skiet.

Dona ·

SA het sy grense oopgemaak, kyk waar sit SA en Saffas nou, minder as n gas in hul eie land.

Carols ·

Die wiel draai, wil orals gaan terrorisme beoefen, nou begin mense teen julle werk.

Danie ·

Daar word gereeld gesê dat Moslems eintlik vredeliewende gelowiges is. Dit mag waar wees maar ongelukkig doen die vredeliewende moslems heeltemal niks om die radikales in hulle midde te stop nie. Dit het die gevolg dat baie onskuldiges sterf as gevolg van die terreuraanvalle.

Dit maak dit nie minder erg nie. Dit maak dit ook nie reg nie. Dit was dus net ‘n kwessie van tyd voordat die radikales aan die ander kant (dit het amper 30 jaar geneem) ook tot dieselfde soort dade oorgaan.

Ek vermoet die vredeliewendes aan die kant van die nie-moslem gaan baie gou iets doen om die radikales in hulle midde te stop.

Eish ·

Wonder net wie is die radikales aan die ander kant?
Wie sou die vredeliewendes wees?

Rupert Ashford ·

Verskriklik. Maar dit was net ‘n kwessie van tyd. Die gewone mense voel verraai deur hulle sg “leiers” wat erg filosofies met hierdie probleem handel en hulle as rassiste en “deplorables ” brandmerk as hulle hulle uitspreek oor wat in hulle gemeenskappe gebeur. Nasionale leiers sal nie-PC moet LEI sodat hierdie gestop kan word anders sal die ISIS die oorlog kry wat hulle wil he en dan sal die duiwel losraak.

Lynn ·

Die moslems was glo die teiken in hierdie aanval. Nou kan ons seker wag vir ‘n weerwraak aanval van hulle kant?

Reinette ·

Terreuraanval? Hier by ons is dit sommer n gewone dag in sonnige SA.

gatiep ·

Is die Sidig Kahan nie dieselfde ou wat gese het mense moet gewoondraak aan die aanvalle nie dit is normaal vir n stad nie?

marous ·

Wit word gou raakgesien , maar andersins is almal kleurblind…

Anti spur ·

Ek stem 100% saam waneer gaan iemand my hierdie verduidelik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.