Foto’s: ‘Vlieënier wou terugdraai’ voor vliegtuig val

Tewolde Gebremariam, uitvoerende hoof van Ethiopian Airlines, tydens ‘n mediakonferensie oor die vliegtuigongeluk. (Foto: AP Photo/Mulugeta Ayene)

Die vlieënier van Ethiopian Airlines se Boeing 737 wat vanoggend geval het, het kort nadat die vliegtuig by die Ethiopiese hoofstad opgestyg het, gerapporteer dat die vliegtuig probleme ervaar en versoek om na Addis Abeba terug te draai.

Só sê Tewolde GebreMariam, uitvoerende hoof van Ethiopian Airlines, oor die rampspoedige vliegtuigongeluk wat die lewens van al 157 mense aan boord geëis het.

Die lugverkeerbeheertoring het kontak met die vliegtuig verloor ses minute nadat dit by die lughawe in Addis Abeba opgestyg het. Die vliegtuig was op pad na Nairobi, maar het naby Bishoftu, sowat 50 km van Addis Abeba, geval.

“Uit die rekords van die lugverkeerbeheerbeamptes is vasgestel die vlieënier het gesê hy ervaar probleme en wil terugdraai en hy is toestemming gegee om terug te draai na Addis,” het GebreMariam tydens ʼn mediakonferensie gesê.

Volgens GebreMariam was die vliegtuig goed onderhou en het sy roetine-instandhoudingsinspeksies nie op enige probleme gedui nie. Hy sê die vliegtuig het vanoggend uit Johannesburg in Addis Abeba aangekom en was vir drie ure op die grond voordat dit na Nairobi vertrek het. Daar was dus genoeg tyd om die nodige tegniese inspeksies af te handel voordat die vliegtuig sy volgende vlug aangepak het.

Naasbestaandes van mense wat in die vliegtuigongeluk gesterf het, klim op ʼn bus by die Jomo Kenyatta Internasionale Lughawe in Nairobi, Kenia om na ʼn hotel te reis waar hulle meer inligting sal ontvang. (Foto: AP Photo/Khalil Senosi)

Die vliegtuig het op 4 Februarie vanjaar sy eerste intensiewe instandhoudingsondersoek ondergaan.

ʼn Senior kaptein genaamd Yared Getachew met altesaam meer as 8 000 vliegure was aan die stuur van die vliegtuig, met Ahmed Nur Mohammod Nur as medevlieënier met meer as 200 vliegure.

“Dit is te vroeg om te bespiegel oor die oorsaak van die ongeluk en verdere ondersoek sal gedoen moet word om dit vas te stel.” GebreMariam het gesê die ondersoek sal in samewerking met Boeing, Ethiopië se burgerlike lugvaartowerheid en ander internasionale entiteite gedoen word.

Passasiers van 35 verskillende nasionaliteite was op die vliegtuig. Die sterftes volgens nasionaliteit is as volg:

Kenia: 32
Kanada: 18
Ethiopië: 9
China: 8
Italië: 8
VSA: 8
Frankryk: 7
Verenigde Koninkryk: 7
Egipte: 6
Duitsland: 5
Indië: 4
Slowakye: 4
Oostenryk: 3
Rusland: 3
Swede: 3
Spanje: 2
Israel: 2
Marokko: 2
Pole: 2
België: 1
Djiboeti: 1
Indonesië: 1
Ierland: 1
Mosambiek: 1
Noorweë: 1
Rwanda: 1
Saoedi-Arabië: 1
Soedan: 1
Serwië: 1
Togo: 1
Uganda: 1
Jemen: 1
Nepal: 1
Nigerië: 1
VN paspoort: 1

Tewolde Gebremariam, uitvoerende hoof van Ethiopian Airlines, kyk na die wrak van die vliegtuig waar dit neergestort het. (Foto: Facebook via AP)

 

Mense staan om die ongelukstoneel waar die vliegtuig geval het naby Bishoftu. (Skermskoot uit video: AP)

 

Talle verslaggewers by die mediakonferensie oor die ongeluk by die hoofkantoor van Ethiopian Airlines in Addis Abeba, Ethiopië. (Foto: AP Photo/Mulugeta Ayene)

 

ʼn Familielid van een van die slagoffers in trane by die lughawe in Addis Abeba. (Foto: AP Photo/Mulugeta Ayene)

 

Familielede van die slagoffers wag by die Bole-lughawe in Addis Abeba, Ethiopië vir nuus oor die vliegtuigongeluk wat al 157 mense aan boord se lewens geëis het. (Foto: Elias Masseret/AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Koos ·

Poland Noordpool of Suidpool. Of bedoel die skrywer dalk Pole?

Johann cb ·

Weet iemand moontlik hoeveel ‘n 737 ongeveer weeg? As ek na die gat in die grond kyk, moet dit heel swaar wees saam met die impak.
Die lewensverlies is ongelukkig ontstellend hoog. Sterkte aan die naasbestaandes.

Chris Ws ·

Johann cb ek vermoed hy weeg in die 60 ton.Miskien kan ‘n geleerde hierop reageer?

Andre Stander ·

Boeing 737-800Max
OEW: 45 ‘070 kg’s (Operational Empty Weight).
MTOW: 82 ‘191 kg’s (Max Take-off Weight).

OEW is die is die vliegtuig se standaard / minimum gewig. Sonder brandstof, wat die crew ingooi vir die beplande roete.
MTOW is die maximum gewig met passasiers, bagasie, vrag, catering en brandstof – waarmee die vliegtuig kan opstuig. Let wel – nie land nie, net opstuig. Die Kaptein sou eers brandstof moes dump in vlug voor hy sou kon land…

Met 157 pax aan boord sou sy moontlik naby aan MTOW gewees het… Dus 80x ton .

DS ·

M Al het hy lisensie gehad dit het nie tragedie gekeer nie. So laat ek dink vlieenier sonder lisensie en elke keer veilige vlug of vlieenier met lisensie en vliegtuig wat val watter een verkies jy?

Skool juffrou ·

Ek ken nie die roete nie maar was die vliegtuig nie oppad Nigerie toe nie. Een van my studente en sy ma en sussie het vandag van Johannesburg na Nigerie toe gevlieg. Dis ‘n ongelooflike hartseer gebeurtenis

Onnie ·

@Skool Juffrou, nee, was oppad Kenya toe. Meer as 1 roete in Afrika.

Cherokee ·

Ek is ‘n vlieënier en sonder om op te soek sê ek daardie vliegtuig is sowat 20ks sonder gewig en dubbel dit met volle lading.

Jakkie ·

Ai Maroela ‘n vlieënier vlieg ‘n vliegtuig, nie ‘n loods nie! ‘n Loods is die plek waar ‘n vliegtuig parkeer word. Maroela moet asb nie vir ‘n vlieënier sê hy is ‘n loods nie, dit maak hul sielsongelukkig ?

Taalgogga ·

Maroela se eie taaltoffie:
25 November 2013 – Loods vs Vlieënier

Nel ·

Wanneer ‘n vlieënier vir ‘n lugredery werk, word daar gewoonlik na die persoon as ‘n loods verwys. Maar beide terme is korrek al ontstel dit vlieëniers as daar anders na hulle verwys word. Dan is daar nog ‘n terme om na ‘n loods/vlieënier te verwys nl. ‘n piloot. ‘So take your pick’

Koos ·

Het ‘n verskriklike vrees vir vlieg. Nie dat ek nie weet hoe dit werk nie…maar dit moet ysingswekkend wees om te vryval vir 10km en te weet jy gaan nou doodgaan. Is altyd onrustig dat iets kan skeefloop in die lug.

Cherokee ·

Almal in die land praat die afgelope tyd van emigrasie. Dìt sal emigrasie wees nie bloot na ‘n ander land nie maar na ‘n ander planeet. So, bly kalm.

Bertus ·

Moeilikheid het dalk in Jhb begin…iemand dalk daar iets gedoen aan vliegtuig wat later tot ongeluk kon lei?

Deon ·

Hoekom kry ek so gevoel dat SA op ‘n manier verantwoordelik gaan wees!! Ek wonder waar is daai groot diens gedoen?

bolla ·

Hoe werk jy dit uit? Geen probleme tydens die vlug vanaf Johannesburg na Ethiopie nie. 3 Ure op die grond waartydens dit weer tegnies nagegaan is en ge”clear” is vir die volgende vlug. Dit kan dalk wees dat die tegniese spanne in Ethiopie drooggemaak het en nie iets raakgesien het wat hulle moes nie of iets verstel het wat hulle nie moes nie. Dis duidelik dat die “clearing” in Johannesburg voldoende was vir die vlug hiervandaan na Ethiopie.

Tobie Klarens ·

Nie veel gebruik Johannesburg vir n diens nie. Ethiopie is verby SAA en word beskou as beste redery in Afrika. Hulle groei, is doeltreffend en maak n wins

Wilmarie ·

Dis verskriklik! Hoe baie mense het n vrees dat die vliegtuig gaan val?

Hendrik van George ·

Wat kommerwekkend is die mede- vlieënier se ondervinding – slegs 200 ure. Al hoe meer rederye maak deesdae gebruik van kadette om hulle getalle aan te vul. In ‘n noodgeval is hierdie studente maar net nog ‘n passasier in die vliegtuig.

Cherokee ·

Lees daar verby. Blote tikfout. Daar moes nog ‘n nul by gevoeg gewees het. Dit sal 2000 ure wees.

Joe ·

??vlieg Donderdag Europa toe. Maar moet nog vandag in die verkeer werk toe ry. Wonder wat is gevaarliker.?

Pierre ·

Die ouens wat so baie weet van takeoff weight en balancing points en climbrate en groundspeed en..en… weet julle dalk of dir banddruk reg was? …. ek vra maar net.

Wielspore ·

Die vlieënier het versoek om terug te draai, so daar was toestande buite sy beheer, dit kan tegnies wees, vlug personeel en selfs passasiers en die lugdiens gaan eers die redes en bewyse ondersoek en bevestig voordat die oorsaak bekend gemaak word, dit is heeltemal in lyn met so ‘n ondersoek.
Dit is opvallend dat die medevlieënier min vliegure het, die tegniese span aan boord se inligting word ook nie verskaf.
Lekker vlieg, ek verkies eerder om wielspore agter te laat as om ‘n lugstreep agter te laat!

Eléne ·

??My innigste simpatie vd families van die oorledenes. Twee van my seuns werk in Afrika sonder enige keuse want Konstruksie in SA bestaan nie regtig meer nie en moet met alle rederye vlieg om te gn werk!

Marinda ·

My innige simpatie aan die familie en naasbestaandes van die oorledenes.

Ben ·

Ek is van mening dat BOEING se nuwe veiligheid’s stelsel naamlik “Maneuvering Characteristics Augmentation System (MCAS)” wat outomaties die vliegtuig se neus afdruk as die data voorstel dat die vliegtuig in gevaar is, die probleem is. Dit is ‘n nuwe stelsel en n foutiewe sensor kan foutiewe data gee. ‘n Waarskuwing lig of geluid sou ‘n beter implementering wees as om fisies die vliegtuig se neus af te druk. Dit is asof MCAS deur mekaar raak met opstyging want die vliegtuig se neus is in die lug en sy spoed neem af – alles data wat wys die vliegtuig gaan dalk stol.

Ander Annie ·

Dit is tragies. Innige simpatie aan al die families. Julle is in my gedagtes en gebede. Rus In Vrede.

Meisie ·

Dit is blykbaar n nuwe model en dit is 2de een wat val in daai model???

GM ·

Pierre, die kommentaar gedeelte is daar vir mense om goed in te bespreek. Party bespreek die tegniese dele, party hou van spekuleer oor die waarom’s en hoekom’s van die lewe, ander hou van die taalaspekte ens. Gun elkeen hul opinie. Elkeen kan so baie daaruit leer as hul ‘n ander se perspektief ook probeer insien en nie net hul eie wil aanvaar as die ‘regte’ een nie. Sarkasme los niks op nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.