[Foto’s] Meer as 200 dood in grondstorting-tragedie

ʼn Lugfoto van ʼn gedeelte van Mocoa, Columbia nadat vloedwater en modder deur die stad gespoel het. Foto: Cesar Carrion/Colombia Presidential Press Office via AP

Meer as 200 mense is dood nadat swaar reën Saterdag ʼn reusegrondstoring in Mocoa, ʼn stad in die suid-westelike gedeelte van Colombia veroorsaak het.

Die Colombiaanse weermag het in ʼn verklaring gesê die dodetal staan tans op 254. Meer as 200 mense is beseer en talle mense word steeds vermis. Die Colombiaanse Rooikruis het vroeër gesê daar is vermoedelik minstens 400 mense in die grondstorting beseer en meer as 200 word vermis.

Swaar reënval het veroorsaak dat drie riviere in die gebied oorvloei het. Water, modder en klippe het deur 17 buurte van Mocoa gestroom. Carlos Ivan Marquez, die direkteur van die nasionale nooddienste, het gesê twee brûe wat ineengestort het, het veroorsaak dat toegang tot sekere gedeeltes van die stad versper is.

Soldate en inwoners besig met ʼn reddingspoging in Mocoa, Columbia (1 April 2017). Foto: Columbiaanse weermag via AP

Die owerhede het gesê hulle sukkel om die groot getal beseerdes te hanteer en daar is nie genoeg personeel om die slagoffers van die tragedie by te staan nie.

Jose Antonio Castro, burgemeester van Mocoa, het gesê elektrisiteit- en watertoevoer in die stad is opgeskort. Volgens Castro is sy eie huis ook in die grondstorting verwoes en het die modder tot dakhoogte in die huis in gespoel. “Dit is ʼn tragedie wat almal in Colombia geruk het,” het hy gesê.

Die tragedie in Colombia kom ná ʼn soortgelyke vloed vroeër die week in Peru, waartydens 100 mense gesterf en 20 000 ontwortel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.