[Foto’s] Meer as 200 sterf in modderstorting

Modder en vloedwater spoel deur Freetown in Sierra Leone (14 Augustus 2017). Foto: Xinhua/Kerefala Janneh

Meer as 200 mense is dood nadat swaar reën en vloede ʼn reusemodderstorting naby Freetown, die hoofstad van Sierra Leone in Wes-Afrika, veroorsaak het.

Abu Bakar Tarrawellie, ʼn plaaslike woordvoerder vir Red Cross, het gesê die aanvanklike dodetal staan tans op 205 mense, maar die getal sal na verwagting styg. ʼn Bron van die departement van gesondheid het gesê tot 500 mense het vermoedelik gesterf.

“Dit is waarskynlik dat honderde mense dood onder die puin lê,” het adjunkpresident Victor Foh aan joernaliste gesê.

Tarrawellie het gesê reddingspogings is tans aan die gang en ongeveer 600 mense word vermis. Vrywilligers in die buurt Lumley het gehelp om die geskende liggame van oorledenes van onder die puin te bevry. Die geluid van sirenes kon oral gehoor word.

By die grootste hospitaal in die hoofstad, Connaught-hospitaal, is altesaam 179 liggame tot dusver na die plaaslike lykshuis geneem, het Tarrawellie gesê. Die getal beseerdes en oorledenes is veel meer as wat die hospitaal kan hanteer.

Skade wat deur ʼn massiewe modderstorting in Freetown, Sierra Leone aangerig is. Honderde mense het gesterf (14 Augustus 2017). Foto: Society 4 Climate Change Communication via AP

Die plaaslike koerant, Sierra Leone Telegraph, het berig van die liggame wat vanaf Connaught-hospitaal na die lykshuis geneem is, is 60 kinders.

Swaar reën het die modderstorting aan die buitewyke van Freetown veroorsaak en talle huise is beskadig en verskeie strate het oorstroom. Minstens 100 geboue het heeltemal ineengestort. Foto’s van die tragedie toon hoe mense deur die water in die strate sukkel met die watervlak tot by hul heupe.

Pres. Ernest Bai Koroma het die stad se Regent-nedersetting besoek, een van die dele van die stad wat die ergste beskadig is. Dit was duidelik dat baie van die swakgeboude geboue in die gebied weggespoel het met baie inwoners steeds binne-in vasgekeer.

“Die modderstorting het opgehou, maar die gebied is uiters rampgevoelig. Dit word steeds as ʼn bedreiging vir mense beskou om die gebied te betree. Ons doen ʼn beroep op almal om dit te verlaat,” het Tarrawellie gesê.

Die stad met ʼn bevolking van ongeveer 1 miljoen word beskou as een van die natste plekke ter wêreld. In groot gedeeltes is daar slegs ʼn baie basiese rioolstelsel aangelê en baie strate is nie geteer nie, wat die moontlikheid verhoog dat die strate in ʼn modderbad kan verander.

Die land se reënseisoen is gewoonlik vanaf Mei tot November.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.