[Foto’s] Miljoene kyk verwonderd na kus-tot-kus sonsverduistering

Die sonsverduistering wat Maandag, 21 Augustus 2017 in die grootste gedeeltes van die VSA gesien kon word. Foto: R. Baer, S. Kovac/Citizen CATE Experiment via AP)

Miljoene Amerikaners, onder wie verskeie Hollywood-sterre, het Maandag hul teleskope, kameras en beskermende brille gegryp om verwonderd te kyk na die eerste algehele sonsverduistering wat in meer as ʼn eeu van die Oos- tot die Weskus in die VSA gesien kon word.

Die laaste algehele sonsverduistering in die VSA was in 1979 en toe het slegs vyf state in die noordweste van die land totale donkerte beleef. Minstens 14 state het Maandag beleef hoe die dag vir ʼn oomblik nag geword het, maar die hele Noord-Amerika, Sentraal-Amerika en die boonste gedeelte van Suid-Amerika het ʼn gedeelte van die verduistering gesien.

ʼn Skare van duisende mense het die middag by ʼn amfiteater in Salem, Oregon, byeengekom terwyl die maan al meer voor die son inbeweeg het. Dié skouspel word beskou as die sonsverduistering in die geskiedenis wat deur die meeste mense nóg oot aanskou en afgeneem is. Miljoene mense het vooraf seker gemaak hulle kry die beste moontlike plek om die verduistering te aanskou en kampstoele is in talle erwe uitgepak om die gebeurtenis dop te hou.

Die skadu wat die verduistering teweeggebring het was tussen 96 km en 113 km wyd en het skuins oor die vasteland, van Oregon tot Suid-Carolina, gestrek, met die donkerte wat tussen twee en drie minute op ʼn gegewe plek geduur het. Soveel as 200 miljoen mense was binne 24 uur per motor binne bereik van plekke waar daar totale donkerte sou wees en dorpe en parke was voorbereid vir skares wat hul opwagting gemaak het.

Die sonsverduistering wat Maandag, 21 Augustus 2017 in die grootste gedeeltes van die VSA gesien kon word. Foto: AP Photo/Ted S. Warren

Die sonsverduistering het egter vir veel méér as net vir ’n skouspel gesorg en het ook verskeie wetenskaplike toetse moontlik gemaak. Selfs Einstein se relatiwiteitsteorie kon getoets word. Verskeie mense het getoets of Einstein se voorspelling in 1915 water hou dat sterre se posisies agter die son tydens ’n sonsverduistering verskil van dieselfde sterre se posisies in die nag. Die korrektheid van tyd-ruimte is reeds in 1919 deur die Brit sir Arthur Eddington as korrek bewys, maar dié keer sou verskeie persone met meer gevorderde toerusting die resultate kon kontroleer.

In nog ’n eksperiment is ’n nuwe instrument, bekend as die polarimeter, ingespan om sonwindaktiwiteite op die son se oppervlak, so ver as 5,6 miljoen km van die oppervlak, te bestudeer. Wetenskaplikes hoop om op dié manier meer van die sonwind se geheime te kan ontrafel.

Van die ander sake waarna wetenskaplikes ook opgelet het, is hoe plant- en dierelewe op die sonsverduistering reageer en voorts word hoe die aarde se atmosfeer daarop reageer.

Die sonsverduistering wat Maandag, 21 Augustus 2017 in die grootste gedeeltes van die VSA gesien kon word. Foto: Joe Songer /AL.com via AP

Robert Lightfoot, Nasa se waarnemende administrateur, het die sonsverduistering vanuit ʼn vliegtuig wat oor die Oregon-kuslyn gevlieg het geniet en dit as ʼn “ongelooflike uitsig” beskryf. Jack Fischer, ʼn Nasa-ruimtevaarder, het van die ruimtestasie ʼn foto op Twitter gedeel waarin ongeveer ʼn dosyn kameras gesien kan word, gereed om die geskiedkundige oomblik vas te vang.

Die aarde, maan en son is elke een tot drie jaar perfek in lyn waartydens die dag vlugtig in nag verander op ʼn spesifieke plek op die planeet, maar hierdie besigtiging gebeur gewoonlik op plekke waar min mense dit kan sien, byvoorbeeld oor die Stille Oseaan. Dit is die eerste keer in die era van sosiale media dat ʼn sonsverduistering oor so ʼn digbevolkte plek voorkom.

Die volgende algehele sonsverduistering in die VSA sal in 2024 wees. Die volgende sonsverduistering wat van kus tot kus sal strek, sal eers in 2045 plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

De Villiers ·

Ek het die voorreg gehad om die totale sonsverduistering op 4 Desember 2002 in Messina te beleef. Wat ‘n ervaring. Van die temperatuur wat skerp afgeneem het so paar minute voor die totale verduistering, die maan se skaduwee wat teen ‘n geweldige spoed oor ons beweeg het en alles skielik om ons verdonker het, Venus en Mercurius wat naby die son om 08h20 sigbaar was, die voëls wat verward slaapplek toe gevlieg het en die kriekies wat om ons begin kriek het. En dan die ‘diamant’-oomblik, die eerste 5 sekondes wat die son agter die maan weer begin verskyn. Ongelooflik! God se skepping is so wonderlik.

Meatloaf ·

De Villiers, jy som dit presies op. Presies wat ek hier in Seattle gister ervaar het.

martin cilliers ·

wat van as die son sal stilstaan soos in die bybel besryf meneer einstein?

Haan ·

Ek kan nie help om te dink aan die huidige stand van sake in Amerika en die vers in
Handelinge 2:19 {Ek sal tekens bo in die lug en wonders onder op die aarde gee…}

Meatloaf ·

Haan, verstaan nie wat jy se nie. “Stand van sake”. Alles lekker en pragtig hier in US.

BenaYaHU ·

Haan, dis SLEGS vir die met “oë om te sien” .. die wat nie verstaan sien wat hul wil..

Hendrik ·

Ek het die 4 minute lange sonsverduistering in Lusaka ervaar en daarna die Messina sonsverduistering. Ongelooflik is die enigste woord om dit te beskryf.. Ek sal dit graag op die see wil ervaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.