Foto’s: Minstens 16 dood ná aardbewings

Verslae inwoners kyk toe terwyl reddingswerkers bly soek na oorlewendes ná Maandag se aardbewing wat gelei het tot die ineenstorting van ‘n gebou in Porac in Pampanga, noord van Manila in die Filippyne. (Foto: Bullit Marquez, AP)

Minstens 16 mense is dood en 81 beseer nadat twee aardbewings die Filippyne vandeesweek getref het, het plaaslike owerhede gesê.

Dié dodetal sal na verwagting styg.

Dit volg nadat die eerste aardbewing wat 6,1 sterk was Maandag die hoof-eiland Luzon getref het. Die BBC berig dat dié skudding in die hoofstad Manila gevoel kon word met wolkekrabbers in dié stad se sakesentrum wat enkele minute daarna steeds gewieg het.

Tacloban City, Leyte en Catbalogan City op die eiland het veral onder die skudding deurgeloop. Volgens owerhede was talle mense ook vasgekeer onder die puin van geboue wat ineengestort het in die provinsie Pampanga, noordwes van die hoofstad Manila, het die BBC berig.

Die stof het skaars gaan lê toe ʼn tweede aardbewing van 6,3 Dinsdag suid van Luzon, die eiland van Samar in die sentrale gebied van die Filippyne getref het.

ʼn Supermark in Porac op die eiland het weens dié skudding ineengestort wat tot van die sterftes gelei het.

CNN berig dat dié aardbewing op ’n diepte van 86,3 km gemeet is. Geen tsoenami-waarskuwing is op die eiland van Samar uitgereik nie.

Altesaam 14 mense is ook as vermis aangemeld nadat die onderskeie aardbewings getref het. Meer as 400 naskokke het ook reeds voorgekom maar die meeste hiervan kon nie eens gevoel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Attie. ·

Lees die boek Openbaring en sien self dat daar eeue terug geskryf is deur Johannes dat daar ‘n groot verdrukking gaan wees en daaroorlog wees en aardbewings en vulkane en stunamis en vlugtelinge en hongersnood en vervolgings. Dan gaan Jesus op die wolke verskyn, en ‘n opstanding gaan plaasvind van die dooies wat Sy kinders genoem word en Sy ander kinders wat nog lewendig is gaan weggevoer word na die hemel. Maak oop julle oë want die tyd is naby…die vyeboom bot. Binne ‘n jaar of tien sal ons jammer wees ons het dit nie eerder besef nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.