Foto’s: Minstens 70 sterf in middernagtelike brand

Brandbestryders baklei teen die vlamme van ʼn reusebrand in Dhaka, hoofstad van Bangladesj [20 Februarie 2019]. (Foto: AP)

Minstens 70 mense is dood in ʼn reusebrand wat Woensdagaand in Dhaka, hoofstad van Bangladesj, uitgebreek het.

Times of India berig die brand het in ʼn gebou in die ouer gedeelte van Dhaka ontstaan, maar vinnig na ander geboue versprei. Die Chawkbazar-woonbuurt waar die brand gewoed het, bestaan uit ʼn mengsel van residensiële en kommersiële geboue, winkels, restaurante en stoorspasies wat deur nou gangetjies geskei word.

BBC berig die brand het omstreeks 23:40 (plaaslike tyd) begin in ʼn chemiese pakhuis op die grondvloer van ʼn gebou, voordat dit blitsig na drie ander geboue versprei het.

Volgens Times of India het inwoners vertel hoe hulle gehoor het hoe een na die ander gassilinder wat in die pakhuis gestoor was ontplof. Ooggetuies beweer van die voertuie wat voor die geboue geparkeer was se brandstoftenks het ook ontplof.

Brandbestryders het gesukkel om die vlamme geblus te kry, veral omdat die nou straatjies dit moeilik maak om naby die vlamme te kom.

Teen Donderdagoggend was daar niks anders oor nie as die swart uitgebrande oorblyfsels van die geboue wat in die slag gebly het. The New York Times berig Mahfuz Riben, ʼn beampte van die plaaslike brandweer en burgerlike verdedigingseenheid, het gesê baie van die liggame is onherkenbaar verkool.

Die dodetal staan tans op 70, maar owerhede meen dit kan verder styg soos reddingswerkers deur die puin na nog liggame soek. Volgens mediaberigte is gaste van ʼn troue onder die slagoffers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jennefer ·

Chemiese stowwe stoorplek. Ja, daarom was daar in die ou RSA industrieele gebiede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.