Foto’s: Mnangagwa amptelik Zim se nuwe president

Emmerson Mnangagwa kort nadat hy tydens ʼn seremonie in Harare, Zimbabwe as die nuwe president van dié Afrika-land ingesweer is (24 November 2017) Foto: AP Photo/Ben Curtis

Emmerson Mnangagwa is Vrydag onder luide toejuiging amptelik as die nuwe tydelike president van Zimbabwe ingesweer, drie dae nadat sy voorganger Robert Mugabe onder die druk van die weermag, sy eie party en gewone landsburgers geswig het om te bedank.

Die Nasionale Sportstadion in Harare was stampvol waar Mnangagwa Vrydag ingesweer is.

Mugabe (93) se 37 jaar as staatshoof het Dinsdag tot ʼn einde gekom toe sy bedanking in die parlement aangekondig is. Sy bedanking het gekom nadat hy aanvanklik nie gehoor gegee het aan Maandagmiddag se spertyd om te bedank nie. Zanu-PF het daarna ʼn mosie ingedien om Mugabe in ʼn staat van beskuldiging te plaas, maar hy het bedank voordat die proses gefinaliseer kon word.

Mugabe het gedurende sy termyn as staatshoof die eens ryk Afrikaland tot ekonomiese ondergang gelei. Zimbabwe het onder Mugabe se leiding tot hiperinflasie gesink nadat inflasie met meer as ʼn miljoen persent gestyg en ekonomiese groei tot minus 18% gekrimp het. Mugabe se heerskappy is ook gekenmerk deur die gewelddadige grondbesetting van wit beheerde plase.

Alle oë is nou op Mnangagwa gerig om te kyk of hy daartoe in staat is om Zimbabwe tot sy eertydse glorie te herstel. Mnangagwa was dekades lank ʼn getroue luitenant vir Mugabe en ʼn lid van sy elite – en het die bynaam “Krokodil” gekry.

Sy eie menseregteagtergrond laat egter vir talle Zimbabwiërs veel te wense oor. Hy was aan die hoof van interne veiligheid toe 20 000 Zimbabwiërs, aldus menseregtegroepe, in die 1980’s gesterf het.

Die meeste van die 16 miljoen inwoners van Zimbabwe is steeds arm en werkloosheid is baie hoog, iets wat Mnangagwa gesê het hy sal aanpak.

ʼn Senior beampte van die internasionale monetêre fonds het gesê Zimbabwe se ekonomiese toestand bly “baie moeilik”, aangesien volhoubare groei bedreig word deur buitensporige besteding deur die regering, onhoudbare buitelandsevaluta-regime en onvoldoende hervorming.

“Onmiddellike stappe is noodsaaklik om die tekort tot ʼn volhoubare vlak te verminder, strukturele hervorming moet bespoedig word en daar moet weer met die internasionale gemeenskap gesprekke gevoer word om toegang te bekom tot noodsaaklike finansiële ondersteuning,” het Gene Leon, hoof van die IMF se sending in Zimbabwe, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

piper ·

waar gaan hy die geld kry om die boere te vergoed wie se plase gevat was.

Deon ·

En hy het n plaas van 1 600 hektaar sonder vergoeding van n blanke boer vir homself gevat en die boer protes aanteken word hy met die dood gedreig en moes oornag land uit vlug.

Johann Marx ·

Black Friday in Zim was ‘n absolute bargain….nuwe president opgeraap vir NET EEN BOB!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.