[Foto’s] Nagklub-skietery: 15 oorledenes was buitelanders, skieter steeds soek

Die toneel by die Reina-nagklub. Foto: AP Photo

Die toneel by die Reina-nagklub. Foto: AP Photo

Die Turkse polisie het ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur nadat ʼn man, wat glo soos Kersvader aangetrek was, minstens 39 mense in die vroeë oggendure in ʼn nagklub in Istanboel doodgeskiet het.

Die aanvaller, wat glo met ʼn aanvalsgeweer gewapen was, het omstreeks 01:15 op die gewilde Reina-nagklub op die oewer van die Bosporus-kanaal toegeslaan en op mense losgebrand terwyl hulle Nuwejaar gevier het.

Daar was na beraming 600 mense in die klub, wat ʼn gewilde kuierplek is vir plaaslike bekendes, waaronder sangers, akteurs en sportsterre.

Die man het eers ʼn polisiebeampte en omstander buite die klub doodgeskiet, voordat hy op die partytjiegangers losgebrand het. Nagenoeg 70 mense is beseer en die dodetal kan na verwagting styg. Vier van die beseerdes is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal.

Van die partytjiegangers het in die Bosporus-rivier gespring in ʼn poging om te ontsnap.

Suleyman Soylu, die Turkse minister van binnelandse sake, het gesê die skieter is nog nie geïdentifiseer nie.

“Ons veiligheidsmagte soek na hom. Hy sal gevang word en dit sal binnekort wees,” het hy gesê.

Soylu het ook bevestig 15 van die 39 oorledenes is buitelanders. Hy het egter nie die nasionaliteite van die slagoffers bekend gemaak nie. Hy het gesê die man het die aanval na bewering alleen uitgevoer.

“Dit was ʼn bloedbad, ʼn daad van ware onmenslike wreedheid,” het Soylu gesê.

Owerhede het die daad as ʼn terreuraanval bestempel. Niemand het nog aanspreeklikheid vir die voorval aanvaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Amanda ·

Ek weet kommentaar kan NIKS verander, maar dis vir my die gemeenste gemeenheid om mense wat sosiaal verkeer so te vernietig……hoe laag kan die mens in sy wese wees…. Ek kan myself nie INDINK om heeldag en aldag te loop en te beplan hoe ek ander mense kan vernietig nie…..

Slimjan ·

Ek hoop nie dit is how 2017 gaan lyk nie! Sterkte aan die naasbestaandes van oorledenes.

Jan S ·

Hierdie is vreeslik, maar ek kan nie help om te dink dat as selfs een of twee mense in die klub hul eie wapens gehad het dat hulle kon terugbaklei het en dat daar minder sterftes sou wees nie. Vergelyk dit met die St James kerk aanval in 1993 in Kaapstad, 4 aanvallers het 11 mense gedood en een slagoffer met ‘n klein rewolwer het hulle laat vlug.

Iets het fout gegaan, deur die eeue as daar gevaar was het jy jou swaard gedra – dit was bloot die logiese ding om te doen. Vandag word mense steeds links en regs vermoor maar tog is dit net ‘n klein minderheid mense wat wapens dra. Dit maak nie sin nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.