Foto’s: Name bekend van polisiebeamptes wat in Kanada-skietery sterf

Lawrence Robert Costello is tydens die voorval doodgeskiet. Foto: Fredericton Polisie

Die polisie in Fredericton in New Brunswick, Kanada, het die name bekendgemaak van die twee polisiebeamptes wat gesterf het nadat hulle Vrydag op ʼn skietvoorval by ʼn woonstelblok in dié stad gereageer het.

Die gestorwe polisiebeamptes is geïdentifiseer as Robert Costello (45) en Sara Burns (43). Costello is al 20 jaar lank lid van die polisie en ʼn pa van vier kinders, terwyl Burns twee jaar gelede by die Fredericton-polisiemag aangesluit het. Burns laat haar man en drie kinders agter.

Die polisie het nie die name bekendgemaak van die twee lede van die publiek wat ook in die skietery gesterf het nie, maar het wel bevestig dit is ʼn volwasse man en vrou.

Die 48-jarige vermeende skieter, ʼn inwoner van Fredericton wie se naam nog nie bekendgemaak is nie, word tans in die hospitaal vir ernstige beserings behandel.

Die polisie het nog nie ʼn motief vir die skietery bekendgemaak nie, maar het wel meer inligting verskaf oor hoe die gebeure ontvou het. CBC berig inwoners van ʼn woonstelblok in Brooksiderylaan het net ná 07:00 wakker geword van skote wat buite die gebou afgevuur is.

Om 07:10 het Costello en Burns gereageer op die noodroep van inwoners. Daar het hulle twee mense op die grond aangetref. Toe Costello en Burns die slagoffers genader het, is hulle doodgeskiet.

Polisiebeamptes het die gebied afgesper en na die skieter begin soek. In ʼn stadium het ʼn skietgeveg tussen die polisie en die skieter uitgebreek. Ooggetuies het op verskillende vloere geskuil terwyl die skote geklap het.

Volgens CBC het polisiebeamptes omstreeks 09:30 ʼn woonstel binnegegaan waar die 48-jarige verdagte in hegtenis geneem is. Hy is met ernstige beserings na ʼn hospitaal geneem.

Die Royal Canadian Mounted Police (RCMP), Kanada se nasionale polisiemag, sal die ondersoek na die voorval oorneem. Die Reaksiespan vir Ernstige Voorvalle, ʼn onafhanklike liggaam van Nova Scotia, sal ʼn aparte ondersoek doen na die polisie se optrede in hul reaksie op die voorval.

Sara Mae Helen Burns is tydens die voorval doodgeskiet. Foto: Fredericton Polisie

Parisa Motallebikia, wat naby die woonstelblok woon waar die skietery plaasgevind het, het gesê sy het wakker geword van die skote wat afgevuur word. Toe sy by haar venster uitkyk om te sien wat aangaan, het ʼn man op haar en haar man geskiet. “Ons venster het gebreek en die koeëls het die muur getref,” het Motallebikia aan CBC News gesê.

Sy het gesê toe hulle buite die gebou kom, het nog ʼn skoot deur die lug geklap. Kort voor 09:00 het die polisie die hele buurt ontruim en die publiek is gevra om die gebied te vermy.

Michael O’Brien, burgemeester van Fredericton, het gesê die gewoonlik rustige stad met sy byna 60 000 inwoners, is geskok en in rou oor die verlies van vier lewens. “Ons liefde en ondersteuning gaan uit aan almal betrokke,” het O’Brien gesê. “In hierdie gemeenskap rou ons saam, maar ons genees ook saam. Vandag het ons iets tragies sien gebeur, maar in die nabye toekoms sal die beste van ons gemeenskap na vore tree.”

Justin Trudeau, Kanada se eerste minister, het ook sy skok oor die voorval uitgespreek. Hy het die polisiebeamptes geloof wat vreesloos op die voorval gereageer het en hul eie lewe op die spel geplaas het om inwoners te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carel ·

Wanneer die Kanadese nie die naam van die skieter wil bekend maak nie is dit omdat hy ‘n Moslem is. Dit gee dure staat en die media tyd om hulle leuen voor te berei. Die eerste wat oor die voorval verder na vore gaan kom is dat die persoon aan ‘n geestestoestand gely het. Maar die die feite dat hy ‘n Moslem was sal nie eers genoem word nie.

Engela de Klerk ·

Carel, jy is verkeerd. Die man se naam is nou bekend gemaak en hy is nie ‘n Moslem nie. Weet nie waar jy aan die strooi kom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.