Foto’s: New York in onheilspellende rookwaas gehul

(Foto: William Volcov / BRAZIL PHOTO PRESS / Brazil Photo Press via AFP)

Die rook van die Kanadese veldbrande het New York Woensdag in ʼn onheilspellende, gelerige rookwaas gehul.

Die New Yorkse burgemeester het inwoners Woensdag aangeraai om liefs binnenshuis te bly terwyl rook nog oor Manhattan se beroemde wolkekrabbers hang. Talle vlugte is weens die rook vertraag en sportbyeenkomste uitgestel.

Verskeie stede langs die Amerikaanse Ooskus het Woensdag waarskuwings oor luggehalte uitgereik, terwyl duisende mense hul huise in Kanada moes ontruim het.

Meer as 100 miljoen mense oor die noordoostelike Verenigde State heen – van Chicago tot Atlanta – het waarskuwings ontvang nadat die rook van vernietigende veldbrande in Kanada honderde kilometers na die VSA gedryf het, het die Amerikaanse omgewingsbeskermingsagentskap (EPA) gesê.

(Foto: ANGELA WEISS / AFP)

Volgens AirNow het New York se luggehalte-indeks (AQI) Woensdag omstreeks 17:00 ʼn gevaarlike vlak van 413 bereik, net minder as die skaal se maksimum van 500.

Ryan Stauffer, ʼn wetenskaplike verbonde aan Nasa, het aan AFP gesê dat New York sy vorige AQI-hoogtepunt 21 jaar gelede verbygesteek het.

(Foto: TIMOTHY A. CLARY / AFP)

Aswin Vasan, gesondheidskommissaris van New York, het op sy beurt gesê die stad ondervind tans sy swakste luggehalte sedert die 1960’s. Die goewerneur van New York, Kathy Hochul, het die rookwaas as ʼn “noodkrisis” bestempel wat ʼn paar dae lank kan duur.

(Foto: William Volcov / BRAZIL PHOTO PRESS / Brazil Photo Press via AFP)

Die verwoestende veldbrande in Kanada het reeds 3,8 miljoen hektaar vernietig.

Die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, het gesê Kanada beleef sy ergste veldbrandseisoen nóg.

Meer as 11 000 inwoners is reeds uit die Quebec-provinsie, nou die episentrum van die ramp, ontruim. Nog 4 000 sou na verwagting teen Woensdagaand uit dié provinsie gevlug het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PersHeks ·

En nog steeds voeter ons net aan…al is die skrif aan die muur! Ons aarde word verwoes terwyl geld/rykdom aanbid word!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.