[Foto’s] Nog aardbewings ruk Italië

Foto: Claudio Lattanzio/ANSA via AP

Foto: Claudio Lattanzio/ANSA via AP

Dieselfde streek van Italië wat verlede jaar geteister is deur aardbewings is Woensdag wéér deur nog vier aardbewings geruk.

Sommige dorpe is nou heeltemal afgesny en is al dae lank onder meer as ʼn meter sneeu begrawe.

Paolo Gentiloni, premier van Italië, het gesê dit lyk nie of daar enigsins lewensverlies is nie, maar dit was wel ʼn “baie moeilike dag vir Italië”.

Montereale, ’n dorpie in Italië, is deur vier afsonderlike groot skuddings getref, wat onderskeidelik 5,3; 5,7; 5,3 en 5,1 gemeet het. Seismoloë het deur die dag sowat 100 naskokke aangeteken.

Verskeie dorpe het aangedui dat hulle al ’n geruime tyd sonder elektrisiteit is en nie die snelweë kan bereik nie weens die ongelooflike swaar sneeuval. Die aardbewings het ook tot gevolg gehad dat sommige selfoondiensverskaffers buite werking is en nooddienste sukkel om by die publiek uit te kom.

Franco Campitelle, burgemeester van Canzano, het gesê die situasie ruk regtig heeltemal handuit. “Dit sneeu so hard en ons is steeds sonder elektrisiteit. Ons hoop die weermag kom spoedig hierheen met sneeuskrapers, anders gaan ons regtig heeltemal geïsoleer wees.”

Die aardbewings kon tot in Rome (150 km weg) gevoel word. In dié stad is die ondergrondse treindiens tydelik gesluit, ouers moes hulle kinders by die skool gaan haal en sommige banke en besighede is tydelik ontruim.

In die pelgrimsdorpie Assisi is die Santa Maria degli Angeli-basilika as voorsorgmaatreël gesluit.

’n Werker in die dorpie, Giuseppe di Felice, het aan RAI-radio gesê die toestand daar is “apokalipties”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.