Foto’s: Nuwe Rolls-Royce glo duurste motor nog

Rolls-Royce se nuwe Boat Tail. (Foto: Adrian DENNIS / AFP)

Rolls-Royce se nuwe Boat Tail kos glo tussen $20 en $28 miljoen (R276 tot R387 miljoen) en word pasgemaak vir net drie superryk kliënte.

Die weelderige ontwerp sluit in ʼn agterkant wat na ’n seiljagdek lyk en oopgemaak kan word om dit in ’n buitelug-eetkamer te omskep. Daar is klein tafeltjies, ’n yskas en eetgerei.

Daar is ook handgemaakte aluminiumpanele en Switserse horlosies wat verwyder en aan die arm gedra kan word. Die Boat Tail is amper 6 m lank.

Rolls-Royce se nuwe Boat Tail. (Foto: Adrian DENNIS / AFP)

Die motor word vervaardig deur Rolls-Royce se Coachbuild-afdeling. Volgens Torsten Müller-​Ötvös, uitvoerende hoof van Rolls-Royce, het die drie kliënte insae in die ontwerp en vervaardigingsproses gehad. Dit word berig dat Jay Z en Beyoncé, een van Hollywood se rykste glanspare, ’n Boat Tail gaan aanskaf.

Rolls-Royce het in 2017 die Sweptail bekend gestel – net een is gemaak en volgens berigte het die eienaar $13 miljoen daarvoor opgedok.

Rolls-Royce se nuwe Boat Tail. (Foto: Adrian DENNIS / AFP)

Die bekendstelling van die Boat Tail kom nadat Rolls-Royce sy beste eerste kwartaal-verkope ooit in sy 116-jarige bestaan gelewer het.

Daar is 1 380 motors, waaronder die Phantom en die Ghost, verkoop. “Ons is swaar getref deur die pandemie,” het Müller-Ötvös gesê en daarop gewys dat verkope verlede jaar met ongeveer ’n kwart gedaal het.

“Vanjaar is ons egter vol bespreek en die vraag is steeds baie sterk. Dit word nie net uit Asië gedryf nie, maar ook Amerika en Europa.”

Müller-Ötvös meen die wêreldwye prentjie vir die luukse goederebedryf is “baie belowend” met “nogal baie geld” wat deur die rykes spandeer word na die inperkings.

“Baie van ons kliënte het gesê dat Covid hulle geleer het dat die lewe maklik môre kan eindig en dat dit nou die tyd is om die lewe te geniet.”

Rolls-Royce se nuwe Boat Tail. (Foto: Adrian DENNIS / AFP)

Rolls-Royce se nuwe Boat Tail. (Foto: Adrian DENNIS / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tipper

Duurste,maar nie die mooiste motor nie.

Lesly

Verwag maar om baie politici met die motor te sien ry. Ek wed hulke is al klaar op die waglys

Reynier

Wie ook al soveel geld aan ‘n motor spandeer is van die lootjie getik

JohanR

Moet uitvind of Zweli Mkhize nie een bestel het nie?

Gert K

Sommer lus en koop vir my 2.