[Foto’s] Om-die-wêreld-vlug van die baan

Tracey Curtis-Taylor by die "Spirit of Artemis", haar Boeing Stearman-dubbelvlerkvliegtuig (Foto: Tracey Curtis-Taylor, Facebook)

Tracey Curtis-Taylor by die “Spirit of Artemis”, haar Boeing Stearman-dubbelvlerkvliegtuig (Foto: Tracey Curtis-Taylor, Facebook)

Die Britse vlieënier Tracey Curtis-Taylor moes haar plan, om in Charles Lindbergh se spore te volg en om die wêreld te vlieg, laat vaar ná sy in Arizona neergestort het.

Curtis-Taylor het die ongeluk oorleef, maar haar vliegtuig het erge skade opgedoen.

Sy het in 2013 in haar Boeing Stearman-dubbelvlerkvliegtuig met die vlug om die wêreld begin en sou voor die einde van die maand die reis in Boston voltooi het.

Curtis-Taylor het Sondag op Facebook bevestig sy, en Ewald Gritsch wat saam met haar was, is ongedeerd. “Die ongeluk het ʼn paar dae gelede plaasgevind toe ons op pad was na Phoenix in Arizona, nadat ons in Winslow brandstof ingegooi en opgestyg het. Die Spirit of Artemis het begin duik, en dit was nie ʼn goeie scenario nie, want daar was kragdrade reg voor ons, maar gelukkig was daar ʼn oop woestyn in ʼn suidelike rigting.”

Volgens Curtis-Taylor het die vliegtuig oor die neus omgerol. “Die skade is aansienlik, maar die vlerke het die impak geabsorbeer en die raam en kajuit is nie beskadig nie. Die Stearman is bekend daarvoor dat dit ʼn sterk vliegtuig is, maar ek het nou ongeëwenaarde respek vir dié vliegtuig as ek dink aan wat kon gebeur het.”

Sy het gesê sy is diep teleurgestel oor die voorval en baie jammer dat sy nie die vlug kan klaarmaak nie, minstens nie hierdie jaar nie. Die Boeing-maatskappy en lugvaartgemeenskap in Amerika het boodskappe van ondersteuning aan haar gestuur. “Ek is nog ʼn Stearman aangebied om die reis klaar te maak, maar ek is te geheg aan die Spirit of Artemis. Ons het al so lang pad gekom, ek kan my dit nie indink om dit in enigiets anders te doen nie.”

Volgens Curtis-Taylor is die onmiddellike plan om die romp van die vliegtuig na ʼn maatskappy in Hongarye te stuur waar dit oorspronklik gerestoureer is, en dadelik herbou sal word. “Ons het ʼn ekstra enjin beskikbaar gehou indien ons dit sou benodig, en daar is reeds ʼn stel nuwe vlerke. Die Stearman kan dalk in Julie reeds gereed wees vir die Farnborough-lugskou [in Hampshire, Engeland]. Dan sal ons dit vroeg volgende jaar na Winslow terugbring en die reis hervat.”

Volg Tracey Curtis-Taylor op Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

toerien venter ·

dit was howard hughes wat eerste om die wereld gevlieg het. lindberg het net oor die atlantiese oseaan gevlieg.

Kandas ·

Toerien, ek stem saam dat Lindberg nie die eerste was wat om die wêreld gevlieg het nie, maar dit was egter ook nie Howard Hughes nie. Huges het wel in 1938 die rekord opgestel vir die vinnigste vlug om die wêreld tot op daardie tydstip maar hy was nie die eerste nie. Volgens my inligting was ‘n span vlieniers van die Amerikaanse Lugmag die eerstes om dit te doen reeds in 1924. Ek het geen idee wie die eerste persoon was wat ‘n solo-vlug om die wêreld voltooi het nie.

fritz breitenbach ·

Toerien jy is reg lindberg het nie om die wereld gevlieg

Kandas ·

Is die berig reg dat sy reeds in 2013 met haar vlug om die wêreld begin het? Die eerste suksesvolle om-die-wêreld vlug in 1924 het 175 dae geneem.

Sune van Heerden ·

Dagsê Kandas

Tracey Curtis-Taylor het inderdaad in 2013 begin met die roete en het in daardie stadium van Kaapstad na Goodwood in West Sussex, Engeland, gevlieg. Sy onderneem dus die vlug om die wêreld in verskillende bene. Dit is nie ‘n aaneenlopende vlug nie.
Besoek gerus haar webwerf vir meer inligting of Facebook-blad om op hoogte te bly met haar vordering.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.