Foto’s: Treinongeluk eis 20; talle beseer

Dosyne noodwerkers is na die toneel ontbied om die beseerde passasiers uit die waens te probeer red. (Foto: Pedro Pardo, AFP)

Altesaam 20 mense is dood en tientalle beseer toe ʼn treinspoor by ʼn treinbrug in Mexikostad, Suid-Amerika, meegegee en ʼn passasierstrein neergestort het.

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe die trein se waens by die Olivos-treinstasie in die stad van die treinspoor na die grond tuimel. Die ongeluk het Maandag omstreeks 22:00 Mexikaanse tyd plaasgevind.

Dosyne noodwerkers is na die toneel ontbied om die beseerde passasiers uit die waens te probeer red.

Die stad se departement vir burgerlike verdediging het op Twitter bevestig ongeveer 70 mense is in die ongeluk beseer. Die beseerdes is na verskeie hospitale in die stad gehaas vir verdere mediese behandeling.

Ongeveer 70 mense is in die ongeluk beseer. (Foto: Pedro Pardo, AFP)

Claudia Sheinbaum, burgemeester van Mexikostad, sê reddingspogings moes egter tydelik opgeskort word omdat die treinwrak dalk verder kan ineenstort. ʼn Gedeelte van die trein hang in die lug, met die voorpunt van twee treinwaens wat afwaarts na mekaar wys.

Boonop is ‘n motor onder die puin vasgekeer, maar dit is nog nie bekend of daar mense in die motor was nie.

ʼn Ooggetuie vertel die struktuur het begin bewe voordat dit inmekaargestort het.

“Toe die stof opklaar, het ons in die treinspoor se rigting gehardloop om te kyk of ons die passasiers kan help. Niemand het gegil of ʼn geluid vanuit die treinwrak gemaak nie,” vertel die ooggetuie.

Dié ongeluk kom meer as ’n jaar ná twee metro-treine in Mexikostad gebots het. Een passasier is tydens dié ongeluk dood en ongeveer 40 beseer.

In Januarie is een dood en 29 mense het rook ingeasem toe ’n brand in die metro se beheersentrum uitgebreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eclectus ·

Ek verstaan nou nie lekker nie. Die artikel sê ondergronds maar die fotos wys oorhoofs…

Megan Swart ·

Dagsê Jacques
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die aritkel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.