Foto’s: Ontploffing ruk deur geboue in Parys

Nooddienspersoneel behandel een van die beseerdes op die toneel in Parys, Frankryk (12 Januarie 2019). Foto: AP Photo/Thibault Camus

Talle mense is vermoedelik beseer in ʼn groot ontploffing wat Saterdagoggend deur die sentrale gedeelte van Parys geruk het.

Die ontploffing het op die hoek van die strate Saint-Cecile en Rue de Trevise plaasgevind. Daar word tans vermoed dat dit ʼn gasontploffing by ʼn bakkery was, hoewel verskeie geboue om die bakkery ook beskadig is.

The Telegraph berig ongeveer 140 brandbestryders is na die toneel ontplooi om die brand wat deur die ontploffing veroorsaak is te blus. Regstreekse televisie-uitsendings het talle noodvoertuie op die toneel getoon, terwyl geboue in die agtergrond nog in ligte laaie is.

Daar is tot dusver nog geen sterftes aangemeld nie, maar noodpersoneel is nog op die toneel bedrywig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.