[Foto’s] Orkaan Maria tref Karibiese eiland

ʼn Satellietfoto wat Maandag wat om 20:30 Gekoördineerde Universele Tyd geneem is toon die oog van Orkaan Maria soos dit nader aan Dominica beweeg. Foto: NASA via AP

Enkele weke nadat orkaan Harvey en orkaan Irma onderskeidelik in Texas en Florida in die VSA verwoesting gesaai het, het orkaan Maria die klein Karibiese eiland Dominica Maandagaand getref.

Die Amerikaanse nasionale orkaansentrum het gesê die kategorie 5-storm gaan met wind van tot 260 km/h gepaard en weervoorspellers het gewaarsku die storm kan selfs nog sterker word.

Die Amerikaanse nasionale orkaansentrum het Maandag gesê Maria het “die gevreesde speldoog” ontwikkel. Brian McNoldy, ʼn orkaannavorser by die Miami-universiteit, het verduidelik dit is ʼn teken dat ʼn uiters sterk orkaan nóg sterker kan word. Hy het verduidelik soos ʼn ysskaatser sy hande nader aan sy lyf sal hou om nog vinniger te kan draai, werk ʼn kleiner oog in ʼn orkaan op dieselfde manier.

Maria se oog het gekrimp tot 16 km in wydte. “Jy sien nie so iets in swakker orkane nie,” het McNoldy gesê.

Mans verwyder bote uit die water ter voorbereiding op Orkaan Maria in die Galbas-gebied van Sainte-Anne op die Franse Karibiese eiland, Guadeloupe (18 September 2017). Foto: AP Photo/Dominique Chomereau-Lamotte

Die storm volg ʼn pad wat naby verskeie van die eilande wat deur orkaan Irma geraak is, verby kan beweeg. Volgens die jongste inligting kan die storm Puerto Rico teen Woensdag tref.

Stormsterk wind en gietende reën het Dominica ure lank geteister, oorstromings veroorsaak en dakke van huise af geruk. Roosevelt Skerrit, Dominica se eerste minister, het in ʼn reeks inskrywings op Facebook die intensiteit van die storm verwoord. “Die winde is genadeloos. Ons sal met God se genade oorleef,” het Skerrit geskryf.

In nog ʼn inskrywing het hy geskryf die geluid van dakke wat van huise afgeruk word kan nog gehoor word. Later het hy bevestig sy huis se dak is ook deur die storm afgeruk. “My dak is weg. Ek is aan die volle genade van hierdie orkaan oorgelaat. [My] huis is oorspoel.”

Inspekteur Pellam Jno Baptiste, ʼn polisiebeampte, het teen laat Maandag gesê daar is nie onmiddellike berigte van sterftes nie, maar dit was nog te gevaarlik vir polisiebeamptes om ʼn evaluasie van die situasie te doen. “Waar ons nou is, kan ons nie beweeg nie,” het hy telefonies gesê.

Die Dominica-owerhede het skole en regeringskantore gesluit en mense aangeraai om gevaarlike gebiede te verlaat en by skuilings aan te meld.

Mans maak ingange met houtplanke toe ter voorbereiding op Orkaan Maria in die Galbas-gebied van Sainte-Anne op die Franse Karibiese eiland, Guadeloupe (18 September 2017). Foto: AP Photo/Dominique Chomereau-Lamotte

In Augustus 2015 het die tropiese storm Erika die eiland getref wat oorstromings en modderstortings veroorsaak het waarin 31 mense dood is en meer as 370 huise verwoes is.

Owerhede op die nabygeleë Franse eiland Guadeloupe het inwoners Maandag gewaarsku dat erge oorstromings verwag word. Op die eiland Martinique is inwoners ook gewaarsku om binnenshuis te bly en voor te berei vir ʼn onderbreking in krag- en watertoevoer. Skole en nie-noodsaaklike openbare dienste is gesluit.

In Puerto Rico is inwoners gewaarsku om houthuise of ander weerlose strukture te verlaat en veiliger skuilplek te vind. “Jy moet wegkom anders gaan jy sterf,” het Hector Pesquera, die eiland se openbare veiligheidskommissaris, gesê. “Ek weet nie hoe kan ek dit enigsins duideliker stel nie.”

Puerto Rico het ook rantsoene op basiese voorraad ingestel, insluitend water, melk, formulemelk, blikkieskos, batterye en flitsligte.

Orkaanwaarskuwings is uitgereik vir die Amerikaanse en Britse Maagde-eilande, Puerto Rico, Guadeloupe, Dominica, St. Kitts, Nevis en Montserrat. ʼn Tropiesestorm-waarskuwing is uitgereik vir Antigua en Barbuda, Saba, St. Eustatius, St. Maarten, St. Lucia, Martinique en Anguilla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.