Orkaan Nate, die vierde storm wat die VSA die afgelope twee maande getref het, is Sondag na ʼn tropiese depressie afgegradeer nadat dit deur Mississippi beweeg het.
Paaie en geboue is oorstroom, maar geen katastrofiese skade is in dié staat aangerig nie. Die wind wat met Nate gepaardgegaan het, het afgeneem tot 55 km/h namate dit noordoos in Alabama inbeweeg het en daartoe gelei het dat die nasionale orkaansentrum sy tropiese storm-waarskuwings vir hierdie gebied opgeskort het.
Maroela Media het vroeër berig die storm is aanvanklik as ʼn kategorie 1-orkaan geklassifiseer en het tot die dood van minstens 30 mense in Sentraal-Amerika gelei. Die meeste olie- en gasproduksie in die Golf van Mexiko moes gestaak word. Die storm was egter nie so dodelik soos sy voorgangers, orkane Harvey, Irma en Maria, nie.
Phil Bryant, goewerneur van Mississippi, het aan verslaggewers gesê daar is geen sterftes in die staat aangemeld nie. “Ons is baie gelukkig en geseën,” het hy gesê.
Volgens die nasionale orkaansentrum sal die kern van die tropiese depressie Maandag deur Alabama in Tennessee en Kentucky beweeg. Swaar reënval en oorstromings is steeds ʼn moontlikheid oor die hele gebied en volgens die sentrum kan die noordwestelike deel van Florida en ʼn gedeelte van Alabama en Georgia nog tropiese stormsterk wind ervaar.
Rick Scott, goewerneur van Florida, het inwoners gewaarsku om hulle te staal vir die sterk wind wat verwag word. Donald Trump, Amerika se president, het Sondag federale noodtoestande in Alabama en Florida aangekondig om addisionele geld vir rampverligting beskikbaar te stel.
In Mississippi is die elektrisiteitstoevoer na 10 000 inwoners herstel, maar 4 800 is steeds sonder enige elektrisiteit. Meer as 1 000 mense het by skuilings aangeklop. In Alabama is elektrisiteitstoevoer na 58 000 huishoudings herstel. Ongeveer 88 000 huishoudings is steeds sonder elektrisiteit.
Die hawe van New Orleans is intussen weer oopgestel hoewel Alabama se Port of Mobile steeds gesluit is. Raffinaderye en hawe-owerhede in Louisiana, Mississippi en Alabama sal bepaal wanneer hulle weer kan heropen.
In Mississippi het talle inwoners gesê hulle is dankbaar vir die relatiewe min skade wat deur die storm aangerig is. Jeff Pickich, ʼn 46-jarige verkoopsman van D’Iberville, het gesê gedeeltes van die heining van sy huis het omgewaai, maar die storm het slegs minimale skade aangerig. “Ek is net baie bly. Ek was bang vir die water. Die water is Moeder Natuur. Jy kan dit nie keer nie.”
Ursula Staten van Biloxi het gesê die water het deur haar tuin gespoel, haar heining beskadig en rommel oor die erf versprei, maar is nie deur haar huis nie. “Ek het net ʼn deurmekaarspul wat opgeruim moet word. As ons Irma gekry het, sou ek alles verloor het.”
My hart gaan uit na hulle!!
Die Metsimaholo (Sasolburg) munisipaliteit saag bome af sodat daar net stompe oorbly en dan kan niks omwaai. Miskien moet hulle daarnatoe gestuur word.