Foto’s: Passasiers ‘angsbevange’ toe vliegtuig byna in see beland

‘n Foto van die vliegtuig wat teen die wal tot stilstand gekom het (Foto: Xinhua)

ʼn Passasiersvliegtuig van die Pegasus Airlines-lugredery het die afgelope naweek oomblikke ná dit in Turkye geland het die aanloopbaan verlaat, van ʼn steil wal gegly en byna in die see beland.

Die voorval het by die Trabzon-lughawe in die noordooste van Turkye plaasgevind. Volgens die Turkse nuusagentskap Anadolu is die 162 passasiers en ses bemanningslede wat aan boord die Pegasus Airlines-vlug was ongedeerd nadat die vliegtuig tydens die landing van die aanloopbaan “gegly” het en toe met sy neus aan die onderkant van ʼn steil wal – etlike meters vanaf die Swartsee – tot stilstand gekom het.

Talle aan boord die vlug het dit as ʼn “wonderwerk” bestempel dat al die passasiers sonder beserings ontruim is.

Fatma Gordu, een van die passasiers, het aan die nuusdiens gesê daar was ʼn harde slag kort ná die landing. “Die vliegtuig het skielik [van die aanloopbaan af] geswenk. Die neus van die vliegtuig het neergestort en die agterkant van die vliegtuig was in die lug. Almal was paniekerig.”

Yuksel Gordu, nog ʼn passasier, het aan Anadolu gesê woorde kan nie die “passasiers se angs” tydens die ongeluk beskryf nie. “Dit is ʼn wonderwerk dat ons ongedeerd ontsnap het. Die vliegtuig kon aan die brand geslaan het, ontplof het of in die see tot stilstand gekom het,” het hy gesê. “Ons dank die Here daarvoor. Dit voel of ek gaan mal raak as ek daaraan dink.”

Yucel Yavuz, burgemeester van Trabzon, het bevestig dat ʼn ondersoek van stapel gestuur is om te bepaal waarom die vliegtuig die aanloopbaan verlaat het. Vlugte na en van die Trabzon-lughawe was vir etlike ure vertraag, maar is dieselfde dag nog hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Reg ·

Is die vliegtuig weer veilig op aanloopbaan en hoe is dit gedoen?

Von ·

Mark my words . . . daar gaan nog n paar gevalle kom in volgende maand of 2
amper iets soos ” alles gebeur in 3 “

Jaco ·

@ Von, n mens se woorde en dit wat n ou sê drae geweldig krag, deur negatiewe woorde te spreuk trek baie negatiewe krag na jou en dit om jou aan, dis dalk beter om iets te sê soos, …mag so iets nooit weer gebeur nie IPV dat daar binnekort nog sulke gevalle sal wees in orde van 3.

Toppie ·

“co pilot— nou waar sit die ding se reverse gear ???? “

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.