Foto’s: Prinses Diana se broerskind, SA miljardêr trou

Michael Lewis en Kitty Spencer is in Italië getroud. (Foto: German Larkin/Facebook)

Prinses Diana se broerskind, lady Kitty Eleanor Spencer, is die naweek getroud met die Suid-Afrikaanse miljardêr, Michael Lewis.

Kitty (30) en Michael (62), voorsitter van die Foschini-groep, is by die Villa Aldobrandini in Frascati, Italië, getroud.

Die bruid was getooi in verskeie rokke deur ontwerpers Dolce & Gabana, insluitend ʼn Victoriaanse kantskepping. Haar broers, Louis Spencer, burggraaf van Althorp, en Samuel Aitken het haar na die kansel vergesel.

Kitty se tweelingsusters, Amelia en Eliza, asook burggravin Emma Weymouth en haar man, Ceawlin Thynn, markies van Bath, was ook teenwoordig by die seremonie.

Amelia het in Julie verlede jaar aangekondig dat sy en Greg Mallett, ook ʼn Suid-Afrikaner, verloof is.

Die popster Pixie Lott, akteur Idris Elba se vrou, Sabrina, en Made in Chelsea-ster Mark Vandelli het ook die troue bygewoon.

Hoewel prinse William en Harry na aan hulle ontslape ma se familie is, het nie een van hulle Kitty se troue bygewoon nie. Sy het voorheen prinse William en Harry se troues bygewoon.

Die nuus van Kitty en Michael se verlowing het in Januarie verlede jaar aan die lig gekom, hoewel hulle reeds ʼn maand tevore verloof geraak het.

Kitty Spencer in haar Viktoriaanse trourok deur Dolce & Gabana. (Foto: Vogue/Facebook)

Die Times of Londen het in Februarie verlede jaar berig dat Kitty haar tot Judaïsme sou bekeer voordat sy met Lewis trou. Dit is Lewis se tweede huwelik.

Kitty het vroeër in ʼn onderhoud met Town and Country gesê sy verkies dit om die besonderhede van haar liefdeslewe privaat te hou en dat dit haar “kwesbaar” laat voel wanneer sy dit in die openbaar bespreek.

“Ek wonder net: ‘Regtig, wat het dit met enigiemand anders te doen?’ Dit behoort geen verskil aan iemand anders se dag te maak nie. Wie ek liefhet of nie, of van wie ek hou of nie, of met wie ek ʼn afspraak het of nie, ek weet nie of dit iets is waaroor mense wil lees terwyl hulle Cornflakes eet nie,” het Kitty destyds gesê.

“So lank as wat ek dit stil hou, dan bly dit so. Sodra dit uit is, kan jy dit nie weer terugneem nie.”

Kitty het vir drie jaar in Florence, Italië, studeer voordat sy in 2017 haar loopplankdebuut vir Dolce & Gabana gemaak het.

Bronne: Daily Mail, People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Belinda ·

sjoe en n hele 32jaar verskil… is lekker om geld te he ne… sien, geld kan liefde koop…. ;-)

Daleen ·

Duidelik is DIT hoekom sy haar liefdeslewe privaat gehou het – sy het duidelik geweet as dit uitkom sal die negatiewe kommentare oor hulle ouderdomsverskil begin. Soos sy se haar lewe haar besluit. Hoop hulle is lank en gelukkig saam.

Jannie van Niekerk ·

Liefde is baie “oranje luiperds” en “blou buffels” van papier.

beswoord ·

U gedienstige beriggewing oor die Engelse koningshuis is vir my vreemd. Vandag vind ek twee artikels uit 30 in ‘n 24 uur periode oor dié mense. U lewer getrou en gereeld verslag oor hulle doen en late. Is daar werklik so ‘n lewendige belangstelling in hulle babas en rokke? Waarom? Wat het die Engelse koningshuis meer met Suid-Afrika uit te waai as bv. die Nederlanse koningshuis oor wie u geen verslag lewer nie (siende ons geskiedkundige verbintenis met die twee lande)? As mense dan nou werklik ‘n siek belangstelling het in skindernuus oor ‘konings’ waarom vir Engeland uitsonder? Ek dink nie skindernuus hoort tuis onder ‘nuus’ nie, in elk geval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.