Foto’s: Rekordgetal kiesers stroom na stembusse in Hongkong

Kiesers staan tou om te stem in Hongkong. (Foto: AP Photo/Vincent Yu)

ʼn Rekordgetal kiesers het Sondag na die stembusse in Hongkong gestroom in die Chinese administratiewe streek se distriksraadsverkiesing.

Die plaaslike verkiesingskommissie sê 31% van die stad se 4,1 miljoen geregistreerde kiesers het in die eerste vyf uur hulle kruisies gemaak. Dít vergeleke met 14,5% van kiesers wat in dieselfde tydperk in die 2015-verkiesing gestem het.

Vanjaar se verkiesing word beskou as ʼn toets vir openbare steun vir teenregering-betogings en politieke onrus wat al langer as vyf maande in Hongkong voortduur.

Die mededinging om 452 setels in die stad se 18 distriksrade is simbolies belangrik. ʼn Sterk optrede deur die opposisie sou toon dat die publiek steeds die prodemokrasie-beweging ondersteun, selfs al het betogings ál meer gewelddadig geword.

Die verkiesing van distriksrade, wat die regering oor plaaslike aangeleenthede van raad bedien, is die enigste demokratiese verkiesing in Hongkong. Lede van die wetgewer word deels gekies deur ʼn gewildheidstem en deels deur belangegroepe wat verskillende sektore van die samelewing verteenwoordig. Die leier van die stad word gekies deur ʼn 1 200-lid-liggaam wat oorheers word deur ondersteuners van die sentrale regering in Beijing.

Die distriksrade pleit vir gemeenskapsbelange en kry ʼn klein begroting vir plaaslike projekte. Suksesvolle kandidate dien ʼn termyn van vier jaar vanaf 1 Januarie.

Kiesers staan tou om te stem in Hongkong. (Foto: AP Photo/Vincent Yu)

Uitslae word ná middernag verwag.

Die regering in Hongkong en die regering in Beijing hoop dat die onlangse onrus en ontwrigting kiesers teen die betogers sal laat draai.

ʼn Kieser genaamd Christina Li glo egter dit is belangrik vir ouer mense soos sy om die jeug wat aan die voorpunt van die betogings staan, te ondersteun. “Jonger geslagte sal moontlik nie die regte geniet wat ons tans het nie. Ons kan dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie,” het sy in die ry van ’n stemlokaal gesê.

Die prodemokrasie-aktivis Joshua Wong, wat belet is om in die verkiesing te staan, het kort nadat die stembusse om 07:30 oopgemaak het, gestem.

“Selfs al het hulle my van die stembus verban en my toegesluit, sou dit my net aanmoedig om met nog sterker vasberadenheid vir die toekoms te veg,” het hy aan verslaggewers gesê.

Stadsleier Carrie Lam het gesê die organisering van Sondag se verkiesing was uiters uitdagend weens die onrus in Hongkong. Regeringsamptenare het ook vroeër gewaarsku dat die verkiesing afgestel kan word as betogers nie bedaar nie.

Lam het egter gesê die verkiesing verloop relatief vreedsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
jaco

As SA se wit mense en die ANC nou saam uit Hong Kong se foute leer, kan ons die China-Hong Kong model in SA toepas: Dwing die wit mense om Wes-Kaap toe te skuif. Gee hulle selfregering daar. Laat ook buitelandse beleggings daar toe. Maak ook belasting daar 10% hoër as in die res van SA. So word die Wes-Kaap ‘n wit tuisland/spesiale ekonomiese gebied waar ons wettig op ons eie is en omdat ons gebied se ekonomie sal floreer, “betaal” ons om ons eie ding te doen en trek die res van SA, wat ons maar eintlik haat omdat… Lees meer »